Fase twee van die Kanonkop-behuisingsprojek is sterk op dreef en as alles volgens plan verloop, behoort die eerste fondasies reeds in Julie of September gegrawe te word.
Dié nuus is onlangs deur die Stad se departement van menslike nedersetting met ’n afvaardiging van die nasionale departement van nedersetting gedeel. Volgens die raadslid Moosa Raise het die afvaardiging die projek onlangs besoek en die goeie nuus afgekondig.
Volgens Raise was die afvaardiging beïndruk met die vordering van die projek waar lae-inkomste-huise vir 1 179 gesinne gebou sal word, wat die totale behuisingsgeleenthede op 1 621 huise te staan sal bring.
Raise sê die Stad Kaapstad is reeds in ’n gevorderde stadium om die kontrakteur aan te stel. Raise het beklemtoon dat hy binnekort sal weet wie die kontrakteur is. “Ons hoop weens die behuisingsnood in Atlantis dat die projek sonder enige probleme kan voortgaan.”
Die ander behuisingsprojek naby Beacon Hill is ook in ’n gevorderde stadium, het Raise bevestig. Dit het egter niks met laekostebehuising te doen nie.
“Die byna 700 erwe is reeds gediens en ons wag net om weer inligtingsessies met die gemeenskap te hou,” verduidelik hy.
Die GAP-behuisingsprojek is vir mense wat net vir ’n deel van die staatsubsidie en ’n deel van ’n huislening kwalifiseer, het hy verduidelik.
Die Nasionale departement van menslike nedersettings is op ’n landwye besoek om te kyk hoe verskillende behuisingsprojekte vorder en of die behuisingsbegrotings wat toegeken is, wel reg aangewend word.


