Atlantis het die afgelope tyd erg onder bendegeweld deurgeloop met verskeie noodlottige voorvalle as eindresultaat.
In die jongste voorval is ‘n getroude pa met ‘n enkele skoot doodgeskiet. Volgens kapt. Lisa Munro, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval Sondag 16 Maart kort voor 18:00 gebeur.
Munro het bevestig dat die oorledene in sy motor gesit het toe hy geskiet is en in die hospitaal aan sy wond beswyk het.
Die 17-jarige vermeende skieter het Donderdag 20 Maart in die hof verskyn en aangedui hy gaan nie om borgtog
aansoek doen nie. Familie en vriende van die oorledende het tydens die verdagte se verskyning buite die hof betoog en gevra dat die hof nie borgtog aan die verdagte moet toestaan nie.
Familie van die oorledene is stomgeslaan oor hul verlies en wonder steeds hoekom hy vermoor is. Volgens Peter Stoffberg, ‘n gemeenskapsaktivis, het hy namens die familie ‘n petisie met byna tweeduisend handtekeninge aan die senior aanklaer oorhandig dat borgtog nie aan die verdagte gegee moet word nie. Volgens Stoffberg het hulle al sulke petisies oorhandig en hoop dit kan as afskrikmiddel gebruik word.
Volgens ‘n betroubare polisiebron besef mense nie hoe maklik iemand vir geld doodgemaak word nie. Die bron verduidelik dat in baie gevalle groot polisse uit geneem word sonder dat die familie weet en in minder gevalle weet een of twee familielede wel daarvan.
Die bron het ook verklap dat dit in ‘n baie winsgewende besigheid ontaard het en ‘n groot deurbraak met sulke sake word binnekort verwag.
Volgens Munro is die oorsaak van die voorval bendeverwant.
Die moordenaars van die talentvolle sokkerspeler Dehaino Bester het op dieselfde dag weer vlugtig in die hof verskyn. Familielede van Bester het ook agter by die hof vreedsaam betoog en het herhaal dat die verdagtes maar gewoond aan hul gesigte moet raak omdat hulle by elke verskyning sal wees.
Stoffberg het inwoners aangemoedig om nie langer vriende, bure of familie se dinge weg te steek nie en hulle aangemoedig om die nodige inligting met die polsie te deel sodat strenger opgetree kan word. Met vier moorde wat reeds teen die 18de Maart aangemeld is, “hou die skietery ook nie op nie”, het
Stoffberg gal gebraak.
