Davanté Marthinus van Mamre kook behoorlik op die rugbyveld. Foto: David Rossouw


Davanté Marthinus, ’n 15-jarige seun van Mamre moes in 2022 ’n groot besluit maak of hy sy hoërskoolloopbaan by die hoërskole Durbanville of Bellville gaan voortsit nadat beide skole hom ’n sportbeurs aangebied het.

Volgens Marthinus, een van drie leerders van Saxonsea Primêr wat sportbeurse aangebied is, was dit ’n moeilike keuse, maar hy hoop sy keuse om die Hoërskool Bellville te kies, was die regte besluit.

Marthinus het sy laerskoolloopbaan in 2016 as gr. 1-leerder by Pella Mor Primêr begin en tot gr. 4 in 2019 gevorder, voordat hy in 2020 na Saxonsea Primêr as gr. 5-leerder verskuif het. Hier het hy tot gr. 7 gevorder voordat hy Durbanville en Bellville se hoërskool-sportverkenners in ’n rugbywedstryd beïndruk het.

Marthinus se indruk by die skool se rugbyspanafrigter het só ’n groot invloed op hom gehad dat hy verlede jaar die skool se o.15-rugbytoerspan na Engeland gehaal het.

Vanjaar het hy ook die Beal-uitnodigingspan se o.16-rugbyskolespan gehaal, wat in Oktober vanjaar by ’n internasionale rugbytoernooi in Dubai plaasvind.

Marthinus het aan Weskus Nuus gesê soos enigiemand maar uitdagings ervaar, ervaar hy dit ook. Soms is dit moeilik om keuses te maak, maar as jy glo en vertrou, sal jy suksesvol wees – hetsy dit sport, akademie of op persoonlike vlak is. “Iemand sal altyd poog om die beste te bereik, en so probeer ek ook. Ek wil ook graag eendag soos ’n Cheslyn Kolbe, Damian Willemse of ’n Sacha Feinberg-Mngomezulu as rolmodel uitstaan om ’n verskil in jonger mense se lewe te kan maak,” het Marthinus gesê.

Hy glo met harde werk, dissipline en selfvertroue kan ’n mens jou doelwitte suksesvol bereik, maar die belangrikste van alles is “stel God altyd eerste in jou doelwitte, en jy sal oorwin met Hom aan jou sy”.

Marthinus bedank sy ouers, Cleonica en Guston Marthinus, Jerome Geduldt, Lyle Maart, Denzil van Wyk (sy afrigters) en Gary Markus (sy destydse skoolhoof by Saxonsea) vir hul ondersteuning gedurende sy ontwikkelingsfase.

“Ek hoop om ook soos ander top-sportpresteerders te ontwikkel en provinsiale skolespanne van die Westelike Provinsie (WP), soos die WP Grant Khomo (o.16) en WP Craven-weekspanne (o.18) eendag te haal,” spreek dié jong rugbyspeler sy toekomsdrome uit.

Voordat Marthinus eers kan dink aan Dubai, moet sy ouers egter teen die einde van Augustus R20 000 van die algehele toerkoste van R40 400 betaal. Cleonica glo hulle sal dit vir Davanté moontlik kan maak om in Dubai te gaan speel.

Organisasies of sakeondernemings wat hierdie jong seun se drome wil ondersteun, kan Cleonica by 068 233 8011 of Guston by 060 965 4227 kontak om bydraes te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025