Hy is ’n inspirasie vir die dorp en rolmodel vir baie, meen Mamre-inwoners oor hul dorp se nuwe atletiek-sensasie. Honderde inwoners het Daiman Titus Saterdag 19 Maart terugverwelkom ná afloop van sy onlangse prestasies.
Diamant Titus, soos mense hom gedoop het, het tydens die afgelope SA Skole-skolekampioenskap in Gauteng ’n silwer medalje in die 100 m vir seuns o.19 en brons in die 100 m-aflos verower.
Daiman het ook Woensdagaand as gas by ’n Atletiek SA-byeenkoms in Groenpunt gewys sy silwermedalje was geen gelukskoot nie toe hy derde in die 100 m- ope afdeling teen gesoute naellopers geëindig het. Die nederige seun, wat op ’n druppel na Brian Habana lyk, sê Habana was altyd sy rolmodel. “Ek het gereeld vir my ouers gesê ek wil soos Brian word. Ek is regtig geraak deur die ontvangs van my mense,” het hy aan Weskus Nuus gesê. “Daarom sal ek altyd my beste vir die dorp doen. Die georganiseerde ontvangs by die ingang van die dorp is goed geheim gehou en daarom was dit vir my ’n wow-oomblik,” vertel hy.
“My sukses op die atletiekbaan beteken sukses vir die dorp. Ek wil vir nou op my skoolwerk fokus en wil volgende jaar gaan studeer,” vertel die matrikulant by Höerskool Durbanville .
“Atletiek is wat ek wil doen en daar is geen manier hoe ek rugby bo dit sal verkies nie, maar in my laerskooldae het ek myself as ’n rugbyspeler gesien. Een van my begeertes is om so gou as moontlik die 100m in 10 sekondes of minder te doen,” sê hy.
Dié 17-jarige, wat van Olimpiese goud droom, sê hy wil in sy vroeë 20’s in die SA span vir die Olimpiese Spele wees.
Hy sê hy besef die harde werk lê nou eers voor, maar “ek is reg daarvoor en sien uit daarna”.
Die twee medaljes is Daiman se eerstes op nasionale vlak nadat hy met vorige probeerslae nooit die topdrie gehaal het nie. “Aanhouer wen en aanhouer sal aanmekaar wen,” glo hy.


