24 spanne durf mekaar aan

Alle paaie lei op 26 November na Mamre wanneer 24 spanne van die Boland- en WP-rugbyklubs mekaar in die Mamre OK-7’s-toernooi op die Mamre-sportterrein pak.


Alle paaie lei op 26 November na Mamre wanneer 24 spanne van die Boland- en WP-rugbyklubs mekaar in die Mamre OK-7’s-toernooi op die Mamre-sportterrein pak.

Twee spanne elk van Hamlets en Mamre sal deel van die 24 spanne wees.

Met ’n algehele prysgeld van R53 000 sal die wenner met R30 000 wegstap, terwyl die naaswenner R10 000 ontvang.

Die Plaatwenner wen R6 000 terwyl die naaswenner R4 000 in die sak steek. In die Bowl-afdeling ontvang die wenner R2 000 terwyl die naaswenner R1 000 sal ontvang.

Die toernooi is moontlik gemaak deur Usen Jacobs, die eienaar van die OK Minimark Mamre (hoofborg), in samewerking met die twee rugbyklubs in die dorp, Hamlets en Mamre.

Volgens Angelo Arendse, die toernooi-voorsitter, werk die komiteelede sedert Januarie hand aan hand om ’n sukses van die toernooi te maak.

Die toename in klubs het in die laaste paar weke drasties verander met omtrent 10 spanne op bystand.

“Die Stad Kaapstad en raadslid Allister Ligtburn se samewerking het ons geweldig baie gehelp om aan die vereistes te voldoen.

“Dit gaan ’n fees-toernooi wees en ondersteuners gaan nie net met rugby vermaak word nie, maar ook deur vermaaklikheids- kunstenaars, wat dit anders as ander 7’s-toernooie maak,” het Arends gesê.

“Wat dit so merkwaardig maak, is dat die plaaslike reëlingskomitee gratis dienste verrig, en daarvoor moet hulle bedank word. Ook die ondersteuning wat ons van die gemeenskap tot dusver gekry het, was puik,” sê Arends.

Kaartjies sal by OK Minimark Mamre beskikbaar wees, en op die dag van die toernooi by Mamre Primêr in die skool se parkeerterrein.

Geen voertuie word binne die sportveld toegelaat nie.

Parkering is by die skool, en daarna beweeg ondersteuners deur die fanwalk na die veld waar die toegangskaartjie (armband) om hul arm geplaas word.

Geen drank of kos sal toegelaat word nie.

Alkoholverkope sal in die biertuin plaasvind met ’n verskeidenheid kosstalletjies beskikbaar. Vermaak vir die kinders en musiekvertonings sal vir R30 aangebied word.

Streng veiligheidsmaatreëls geld te alle tye by die skool en die veld en ondersteuners word gemaan om by die reëls te hou.

Ondersteuners word uitgenooi om hul gazebo’s, sambrele en stoele te bring om uit te kamp.

Die gemeenskap word versoek om die toernooi, wat hopelik ’n jaarlikse instelling kan word, te ondersteun.

Kaartjies kos R30 vir volwassenes, R15 vir kinders en pensioentrekkers en parkering R20.

Kaartjies sal ná die bekendstelling van die toernooi by Mamre Primêr van 19 November af beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.