Reggie Sampson (31) is vermoedelik meer as 50 keer met ’n mes gesteek nadat ’n vrou glo nie haar sin oor leë drankbottels kon kry nie.Foto: Verskaf


Sinneloos en wreed – dit is hoe familie en vriende die moord op Reginald “Reggie” Sampson (31) beskryf.

Volgens ’n familievriend is die familie steeds erg getraumatiseerd oor Reggie se dood, maar wat veral seermaak, is hoe hy aan sy einde gekom het.

Reggie en sy neef Jason Sampson (35), werkers by ’n drankwinkel in Witsand, is Sondag 9 Februarie deur ongeveer nege mans met messe aangeval. Die familievriend het vertel Reggie en sy neef is deur die mans aangeval nadat ’n woordewisseling tussen die twee neefs en ’n vrouekliënt ontstaan het.

Die vrou het vermoedelik die twee gedreig hulle “gaan nou sien wat gaan gebeur” nadat sy volhard het sy het vyf kiste leë bottels gehad, maar volgens die sekuriteitskamera het sy net drie gehad.

Volgens die familievriend het die vrou met ’n bakkie weggery en met nege jongens – vermoedelik van Kalbaskraal – teruggekeer. Die video van die voorval, wat in WeskusNuus se besit is, wys duidelik hoe die vrou aan die jongens wys wie die twee is.

Die nege mans – gewapen met messe –het op die twee neefs toegesak en hulle begin steek.

Volgens ’n polisiebron het Reggie, wat later in die hospitaal aan sy wonde beswyk het, ongeveer 50 steekwonde gehad terwyl Jason, wat ook verskeie kere gesteek is, die voorval oorleef het, maar in ’n kritieke toestand in die hospitaal is.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het vier van die manlike verdagtes en een vroulike verdagte hulle die volgende dag aan die polisie in Malmesbury gaan oorgee.

Die verdagtes – almal van Kalbaskraal – het die verlede Maandag (17 Februarie) in die hof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord en sal hierdie Donderdag (27 Februarie) vir hul borgtogaansoek weer in die hof verskyn.

Die familievriend het egter gal gebraak en gesê die ander vyf mans, wat geharde misdadigers is, moet ook aangekeer word. Die familie gaan by die volgende verskyning ’n petisie oorhandig dat die vermeende moordenaars borgtog geweier word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025