Aanranding ná beskuldigde ontsnap

’n Senior staatsaanklaer en drie polisiebeamptes van die Atlantis-polisiestasie het verlede week in die Atlantis-hof verskyn op klagte van aanranding.


’n Senior staatsaanklaer en drie polisiebeamptes van die Atlantis-polisiestasie het verlede week in die Atlantis-hof verskyn op klagte van aanranding.

Die klagte vloei voort uit ’n insident vroeg verlede jaar waartydens ’n beskuldigde onbeman in een van die konsultasiekamers by die hof gelaat is en ontsnap het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het die insident bevestig. “Die staatsaanklaer is geskors omdat hy die nasionale vervolgingsgesag se naam in gedrang gebring het,” het Ntabazalila gesê.

Volgens ’n anonieme bron, het die beskuldigde ’n kans gesien toe hy alleen gelaat is in ’n konsultasiekamer, waar hy met sy prokureur moes konsulteer. “Hy het die kans gesien, deur die tralies geklim en doodeenvoudig uitgeloop,” vertel die bron.

Die polisiebeamptes het toe besef die man is weg en het, volgens die bron, in die staatsaanklaer se motor geklim om na die ontsnapte te gaan soek.

Die bron wat ’n CCTV-opname van die aanranding gesien het, vertel die man is teruggeneem na die hof, waar hy glo deur die drie polisiebeamptes en senior staatsaanklaer aangerand is.

Volgens kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder, is die betrokke polisielede departementeel aangekla en is die saak intern afgehandel. Die staatsaanklaer is ook terug by die werk.

Die vier verdagtes het op 3 Februarie in die Atlantis-hof verskyn. Die saak is uitgestel tot 30 Maart.

You need to be Logged In to leave a comment.