“Dit is vir my ’n groot voorreg om vereer te word met afrigters wat diep spore in Suid-Afrikaanse atletiek getrap het.”
Tashwell Adams (27), van Atlantis, is een van die afrigters wat op 1 Maart tydens die Cape Sport Council se jaarlikse toekenningsdinee in die Kaapstadse burgesentrum vereer is.
Adams is saam met Susanne Ferreira, van die Maties-atletiekklub, en Marcel Otto van die Bellville-atletiekklub, as finaliste vir afrigter van die jaar benoem.
Ferreira is ’n naellope-afrigter en het atlete afgerig vir die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro. Otto word gesien as die Suid-Afrikaanse hekkies-ghoeroe.
Adams het reeds 10 jaar ervaring as afrigter en werk tans as afrigter by Hoërskool Durbanville. Hy is ook voorsitter van die Velocity-atletiekklub in Atlantis en is onlangs deur Westelike Provinsie aangewys as een van die spanbestuurders vir die junior nasionale kampioenskap wat in April by die Kaapstad-stadion plaasvind.
Volgens Adams het die Cape Town Sport Council gekyk na afrigters se prestasies vanaf 2016 tot nou. As afrigter het hy verskeie atlete tot nasionale vlak gebrei, maar een van sy suksesstories is diè van Martinique du Preez, ’n orgaanoorplantingsatleet, wat hy sedert 2014 afrig.
Du Preez is die Suid-Afrikaanse orgaanoorplanting-rekordhouer vir 100 m- en 200 m-naellope, sowel as verspring. Hy het in 2016 die rekord verbeter en kwalifiseer om in Junie vanjaar aan die Wêreld Orgaanoorplanting-spele in Spanje deel te neem.
Adams sê voorts, hy het glad nie die nominasie verwag nie. “Ek werk nie om erkenning te kry nie, maar dis definitief ’n bonus. Dis vir my net ’n voorreg om met afrigters wat reeds soveel evaring het, benoem te word.” Die drie finaliste se prestasies gaan tot Junie vanjaar gemonitor word, wanneer een van hulle met die louere as afrigter van die jaar in die Wes-Kaap sal wegstap. Die wenner word ook dan ’n finalis vir die nasionale sport-toekennings.