“Ons hou die droom wakker vir atlete en afrigters in die dorp.”
Twee atletiek-afrigters van Atlantis het onlangs die hoogste kwalifikasie van afrigting in Suid-Afrika bekom.
Mario Philander en Tashwell Adams, albei afrigters by die Velocity-atletiekklub, het in Oktober na Bloemfontein gereis, waar hulle tydens ’n afrigters-simposium hul tesis aan hul kollegas voorgelê het.
Om in aanraking te kom vir die kwalifikasie moes die afrigters ’n tesis inhandig en is dan genooi om dit voor te lê aan 120 mede-afrigters, wat ook Atletiek Suid-Afrika-presidente en internasionale afrigters ingesluit het.
Altwee se voorleggings was suksesvol en hulle het vlak 3-sertifikate verower. Hierdie kwalifikasie stel hierdie twee plaaslike afrigters in staat om atlete tot op internasionale vlak te kan afrig.
Philander en Adams se visier is nou streng gefokus op die 2020 Olimpiese Spele wat in Tokyo sal plaasvind.
Philander is reeds 15 jaar betrokke by atletiek en was selfs Adams se afrigter toe hy jonger was. Sy tesis was getiteld: 800 m – a different approach.
Hy was ook self ’n langafstand- kampioen en het later begin om ander atlete af te rig. “My visie is om die hope jong talentvolle atlete te gaan soek en voort te gaan met afrigting,” sê Philander.
Adams sê, die kwalifikasie is vir hom ’n groot prestasie.
Self ’n hekkiesatleet, het hy in 2008 betrokke geraak by afrigting, sonder enige kwalifikasies.
“Marnette Meyer het my in 2011 finansieel bygestaan om my vlak 1 en 2 kwalifikasie te verower. Dit was belangrik om ’n formele kwalifikasie te kry, sodat ons ook erkenning op provinsiale en ook nou op nasionale vlak kon kry,” sê Adams.
Sy tesis het gehandel oor die langer afstande (300 m en 400 m) hekkies-wedlope.
Vlak 3-kursusse is sedert 2011 eers gestop en is vanjaar weer vir die eerste keer aangebied.
Adams sê die kwalifikasie is meer as net ’n vlak 3. Hulle hou die droom wakker vir afrigter en atlete in Atlantis, ten spyte van die sportkode wat hulle beoefen.
Albei afrigters meen hul grootste prestasie sal wees om ’n atleet van Atlantis tot by die Olimpiese Spele af te rig.
Philander en Adams is dit eens dat die vlak van atletiek-afrigting in Atlantis op standaard is met afrigting in die res van Suid-Afrika.
“Ons grootste uitdaging is om die hordes talentvolle atlete tot op ’n volgende vlak te neem,” sê Philander.
Die twee wêreldklas-afrigters is gebaseer in Atlantis en sê atlete moet hulle benut.


