Internasionale Moedertaaldag is wêreldwyd op 20 Februarie gevier. Verskillende bevolkingsgroepe in ons land het met groot trots hul eie onderskeie moedertale herdenk.
Ek dink dis belangrik dat die sogenaamde bruinmense goed moet nadink oor die volgende historiese feite rakende die Afrikaanse taal.
Volgens die jongste sensusopname, is Afrikaans die derde mees gesproke taal in SA. Die grootste gedeelte van die bruinvolk is Afrikaanssprekend – die taal waarna baie van ons verwys as ons moedertaal. Ek is nie seker waar die twee grootste tale gebore is nie, maar ek is wel seker dat Afrikaans sy bestaansgeboorte aan die Suidpunt van die Afrika-kontinent, naamlik Suid-Afrika het.
Ek gee graag ’n beknopte historiese agtergrondskets vanuit die oer-oue Khoisan-perspektief. Dit is baie paslik aangesien die Khoisan-nasie die fondasie-nasie van Suid-Afrika is. Ons is bewus dat die afgelope twee dekades daar ’n enorme ommeswaai was in die manier waarop die sogenaamde bruin-/ kleurling-volk na onsself verwys.
Baie van ons het die identiteit wat die argitekte van Apartheid ons gegee het (kleurling), verwerp. Die identiteit wat die hedendaagse argitekte van demokrasie ons gee (swart) word ook verwerp. Ons eien ons mensereg van self-identifikasie toe, en identifiseer onsself as Khoisan, die fondasie-nasie van Suid-Afrika.
Dit was die Khoisan-nasie, ons oerouers, wat die koloniste hier aan die suidpunt van Afrika, Suid-Afrika kom kry het. Met die koloniale inval is die Khoisan-nasie streng verbied om hul moertaal te praat. Hulle is wreed gemartel en ook dood gemaak wanneer hulle hul eie moertaal gepraat het. So met die dominante verdrukkende omstandighede was hulle genoodsaak, forseer om ’n nuwe taal te skep. Hierdie omstandighede het direk aanleiding gegee tot die uiters vinnige ontstaansgeboorte van die Afrikaanse taal. Dit is die produk van die Dietse taal en oeroue Khoisantaal en waarom ons na Afrikaans verwys as ons oorlewingstaal.
In die akademie, oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans, word daar gepraat van ’n geradbraakte mengelmoestaal. Die woord “geradbraak” beteken in die taalkonteks: vinnig aanmekaar geweef, al is dit skeef en krom.
So is die taal dan verder beïnvloed en ontwikkel tot ’n waardige taal, Afrikaans, ons oorlewingstaal. Dit is belangrik dat ons onsself vergewis van die herkoms van ons oorlewingstaal, wat ons met soveel trots praat. Van toeka tot nou – inderdaad die hartstaal van ons nasie in die volle sin van die woord.
Ek gee graag erkenning aan leier, Francisco McKenzie, voorsitter van die WKWKWRS, na wie ek opsien as mentor en inspirasie vir ons doel van nasie-restourasie.
Vir enige verdere belangstelling kan u gerus ’n e-pos rig aan: khoisan.renaissance@gmail. com.