Young Hearts-rugbyklub van Pella het sy langverwagte buiging in die Boland-grootuitdaagbeker met vlieënde vaandels geslaag.
Dié span het in sy eerste ligawedstryd Saterdag 5 Mei ’n bonuspuntoorwinning teen die besoekers van Hopefield behaal.
Hopefield wat van die afskop af aanvallende rugby gespeel het, het egter nie rekening met die tuisspan se rotsvaste verdediging gehou nie en vele van die besoekers se aanvalle is met skitterende verdediging in teenaanvalle omskep.
Die eerste helfte was gekenmerk deur slordige spel en swak dissipline aan beide kante. Pella met sy aanvallende agterlyn het gereeld die besoekers aan die raai gehou, maar afronding moet beslis vir afrigter, Ruben Abels, ’n bron van kommer wees as die span wil voortbou op die vertoning.
Pella wat rustyd met 7-0 voor was, kan net homself blameer dat kanse wat geskep was nie in punte omskep is nie. Niks moet egter van die besoekers weggevat word nie, aangesien die spelers hul lywe op die spel geplaas het om die tuisspan van nog punte te weerhou.
Gilmore Solomons, skrumskakel van die tuisspan, het sy beste wedstryd gespeel en het ’n driekuns behaal. Barry Adonis, vleuel van die tuisspan, was ook briljant op die kruisverdediging en Jade Solomons, heelagter van Pella, was skitterend met sy teenaanvalle en het sy span verder laat voorloop met ’n skepskop van byna 50 m.
Pella het egter in die tweede helfte die krane behoorlik oopgedraai en het nog drie verdoelde drieë behaal terwyl die besoekers kort voor die einde ’n troosdrie gedruk het. Die eindtelling was 31-5.
. Pella het die afgelope naweek voortgebou op sy eerste wedstryd toe die span ’n bonuspuntoorwinning in Paternoster behaal het. Pella het die wedstryd, wat as een van moeiliker wedstryde in sy afdeling beskou word, maklik met 39-29 gewen en het daarmee die eerste plek op die punteleer ingeneem bo spanne soos Saldanha en Vredenburg. Pella ontvang eerskomende naweek Velddrif en kan met nog ’n bonuspuntoorwinning sy posisie versterk.
Mamre het ook sy tweede agtereenvolgende nederlaag gely toe die span teen Langebaan met 23-32 vasgeval het.
Wat egter versagtend vir Mamre is, is die feit dat die span nie tuiswedstryde speel nie weens die veld se toestand. Mamre sal egter hoop dat sy veld spoedig geskik verklaar sal word.