Agterspelers laat Atlantis stik

Atlantis-rugbyklub het Saterdag 18 Augustus op sy tuisveld ’n nederlaag van 8-43 teen die span Lagunya van Gugulethu in Westelike Provinsie se suid-liga ervaar.


Atlantis-rugbyklub het Saterdag 18 Augustus op sy tuisveld ’n nederlaag van 8-43 teen die span Lagunya van Gugulethu in Westelike Provinsie se suid-liga ervaar.

Atlantis, onder leiding van Marlon de Jongh, moes die wedstryd wen om sy kanse lewendig te hou om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer, maar sal nou volgende seisoen weer moet probeer.

De Jongh het goed voor gelei en het sy troepe bymekaar gehou totdat die damwal gebreek het. Die tuisspan se agterspelers was egter nie opgewasse vir die taak nie en het te veel duikslae gemis. Die besoekers het uit die staanspoor aanvallende rugby gespeel en die tuisspan se verdediging was tot die uiterste getoets.

Die paar keer wat die tuisspan naby die kwartgebied gekom het, is die bal verloor of swak dissipline het besit omgekeer. Die besoekers het rustyd gaan water drink met die telling 19-3 in hul guns.

Atlantis het die tweede helfte goed begin toe hy oor is vir ’n onverdoelde drie. Die ondersteuners van die tuisspan het hul lippe afgelek vir ’n terugveg­poging.

Die besoekers met sy vlugvoetige agterspelers was egter te veel vir die tuisspan.

Atlantis kon nooit weer regtig daarna aan die gang kom nie en moes meeste van die tyd net verdedig.

Atlantis, wat voor dié stryd sesde op die punteleer was, het met een plek gesak met nog een wedstryd oor. Volgens afrigter Fabian Brandt was sy span egter deur ’n beter span geklop. Hy sê verder sy span se verdediging het hulle in die steek gelaat en dis iets waaraan hulle baie hard gaan werk.

Atlantis pak Saterdag vir Retreat in die laaste wedstryd van die seisoen.
. In die Boland-grootuitdaagreeks van die Weskus-streek het Pella Saterdag (18 Augustus) ’n belangrike wegwedstryd teen Vredenburg gewen en sodoende sy kanse lewendig gehou om vir die uitspeelronde te kwalifiseer. Pella het die wedstryd met 23-18 gewen.

Pella het Saterdag 25 Augustus op sy tuisveld die besoekers uit St. Helenabaai in ’n spannende wedstryd met 16-13 geklop en daarmee verseker dat hy onder die top-12-spanne in Boland is. Pella het in die eerste helfte gesukkel met die sterk wind in sy gesig en die besoekers was in ’n stadium met 13-0 voor.

Pella het egter stadig maar seker die agterstand uitgewis en die spanne het gaan water drink met die telling 13-10.

Die besoekers het daarna met die wind van voor gesukkel en sy goeie verdediging het die tuisspan verhinder om meer punte aan te teken.

Twee strafskoppe deur Jade Solomons het egter die wa deur die drif vir die tuisspan getrek.

Pella speel die komende naweek teen Mamre en pak daarna die voorlopers in die streek Saldanha.


Nog uitslae:

. Mamre het die naweek die streekvoorlopers Saldanha onthaal en is met 20-47 ore aangesit. Mamre wat niks het om te verloor nie, het in die tweede ronde tot sy reg gekom en verskeie van die spanne met die kous oor die kop huis toe gestuur.


. Hamlets het Saterdag in ’n wegwedstryd teen Bellville met 20-25 vasgeval. Hamlets wat die seisoen baie wisselvallig vertoon het, is tans 10de op die punteleer maar kan sy posisie hierdie naweek versterk as hy All Saints tuis pak.

You need to be Logged In to leave a comment.