Danny Petersen (skoolhoof en plaaslike koördineerder) saam van die leerders wat tans by die skool studeer

Hoërskool Garsfontein van Pretoria het Sondag 9 Desember ’n reünie by die Herehuis in Malmesbury gehou.

Dié skool bied geleenthede aan kranige rugbyspelers uit die Swartland en Weskus om na Pretoria te verhuis, by die skool onderrig te ontvang en deel van sy rugbyspan te wees.

By dié geleentheid is die skool se eerste Springbok, Embrose Papier, ook vereer. Papier van Darling, het in 2016 aan Garsies gematrikuleer en speel tans vir die Blou Bulle.

Die doel van die geselligheid was om oud- en nuwe leerders aan mekaar voor te stel, erkenning te gee aan onderwysers en afrigters en ook om hul suksesse te vier. Volgens Johan Theunissen, bemar­kingshoof van Hoërskool Garsfontnein, het die skool reeds verskeie provinsiale spelers opgelewer wat uit die Swartland en Weskus kom en sê Papier se insluiting in die Springbokspan is beslis ’n stap in die regte rigting.

Die skool het ook verskeie nuwe leer­ders uit die gebied verwelkom. Franco Johannes van Mamre is ook ’n wer­wings­agent vir die skool en sê hy is nie vir een oomblik spyt dat hy die jongman­ne werf om hul talent verder te ontwikkel nie.

Een van die jong Saldanha-rugbyspe­lers, wat hierdie jaar by die skool aange­sluit het, Rowan Cloete, sê hy is dank­baar vir die geleenthede wat die skool bied. Cloete is reeds in die Blou Bulle se o.16-span opgeneem. Keagan Johannes van Mamre het ook hierdie jaar klaargemaak by die skool en het ’n kontrak by die Bulle.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025