Alkoholmisbruik kom wydverspreid, oor Suid-Afrika heen voor. Alkohol is vrylik en wyd beskikbaar.

Boonop word dit in die meeste gevalle as ’n sosiaal aanvaarbare middel beskou. Skakel die televisie of radio aan en jy word oorval met advertensie na advertensie wat die nuutste alkoholiese drankie bekendstel.

In die meeste gevalle word alkohol nie as ’n gevaarlike middel beskou nie. Dit is gewoonlik eers wanneer ’n persoon ernstige skade en verliese gely het wat alkohol­misbruik as ’n probleem beskou word. Alkoholmisbruik het ’n negatiewe impak op alle gebiede van die samelewing.

Op individuele vlak kan langter­mynalkoholmisbruik tot verslawing, hoë bloeddruk, skade aan organe, geheueverlies en ’n wye reeks ander gesondheidsprobleme, lei. Dit kan tot probleme in verhoudings, veral in terme van die gesin lei.

Iemand wat aan drankverslawing ly, mag meer aggressief as gewoonlik optree. Dit kan aanleiding tot konflik en selfs gesinsgeweld gee. Alkoholverslawing kan veroorsaak dat die persoon met die verslawing en selfs gesinslede werk of skool mis. Dit kan dus ’n negatiewe impak op die persoon se beroep hê. Buiten die impak op die persoon se beroep kan alkoholmisbruik ook die persoon se finansies beïnvloed, omdat die persoon die gebruik van alkohol bo ander verantwoordelikhede, soos om rekeninge te betaal, prioritiseer.

Dit kan tot verdere afbreking van die persoon en hul gesin se welstand lei. Buiten gesinskonflik, finansiële verliese en beroepsprobleme kan alkoholmisbruik vele ander nagevolge in hou.

Alkohol verlaag ’n persoon se inhibisies, wat beteken hulle kan optree in maniere wat hulle nie gewoonlik sou nie.

’n Voorbeeld hiervan is die deelname aan gewaagde seksuele gedrag. Hierdie gedrag is egter net ’n druppel in die emmer, wanneer dit by die invloed van alkoholmisbruik kom.

Vir meer inligting oor gewaagde alkoholverslawing en waar hulp gekry kan word, kontak gerus die Kaapse dwelmberadingsentrum by sy kantoor. Die vriendelike en goed opgeleide personeel sal ondersteuning en leiding verskaf.

¦ Skakel die sentrum in Atlantis by 021 571 7180 of maak sommer ’n draai by sy kantore in die Drostdy-gebou regoor die landdroshof in die Wesfleursirkel.

Janet Smit, maatskaplike werker

You need to be Logged In to leave a comment.