Aubrey Kruger (20) se lyk word van die toneel verwyder, onderwyl sy pa, ook Aubrey (links), toekyk.Foto: Joline van der Merwe


Aubrey Kruger (20) het glo vir twee uur in ’n poel bloed gelê voor hy uiteindelik aan sy wonde beswyk het.

Volgens inwoners het hy Woensdag 6 September saam met ’n vriend buite gesit toe twee mans glo skielik op hulle losgebrand het.

Junior, soos hy tussen vriende en familie bekendgestaan het, het probeer wegkom, maar die skieters het hom van agter geskiet. Hy het later op ’n trap neergesak.

Die jongman is die derde persoon wat verlede week in Atlantis doodgeskiet is.

Junior se pa, na wie hy ook vernoem is, het aan Weskus Nuus vertel dat sy seun omtrent twee uur gelewe het terwyl hulle vir ’n ambulans gewag het.

“Ek het hom daar op die trap gekry en hy het nog die heeltyd gereageer as ek met hom gepraat het, maar hy kon nie terugpraat nie. Die bloed het nog vrylik uit die kopwond gestroom,” onthou die verslae pa.

Volgens Robert Daniels, woordvoerder vir mediese nood en patologie dienste, is ’n ambulans binne 45 minute na die toneel ontbied, maar is hulle glo deur die gemeenskap verjaag.

Hy sê voorts die oorledene is reeds voor die ambulans se aankoms deur brand- en reddingsdienste dood verklaar.

Kruger sê egter mediese personeel het eers twee uur na die voorval opgedaag. “Ek was by my seun toe hy sy laaste asem uitgeblaas het, dit was sowat twee uur na hy geskiet is. Toe die ambulans uiteindelik op daag het hy reeds gesterf – dis hoekom inwoners onbeskof met die ambulanspersoneel was, wie toe verduidelik het dat hulle uitgeroep was na ’n ander dorp.

Volgens inwoners was die polisielede op die toneel ook nie baie behulpsaam nie. Een inwoner, Chrissie Davids, het vertel ’n polisielid het glo aan inwoners gesê: “dit sal so gaan met julle!”

Gerugte dat polisielede nie mediese hulp ontbied het nie, is deur kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder ontken. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025