Dinamiet kom in klein pakkies en die Yanks sal binnekort kan getuig daarvan.
Monré Apollis (17) van Pella is opgeneem in die iKapa-sokkerspan wat eersdaags in Dallas, Amerika gaan deelneem aan ’n internasionale toernooi.
Die talentvolle sokkerspeler van Pella Sporting is deur iKapa United se afrigter, Carl Maarman, nader getrek om die Kaapse-span te versterk in die Dallas Cup o.19-sokkertoernooi, wat in April plaasvind.
Die toernooi hou twee weke aan en Apollis moet sowat R30 000 insamel om die reis te finansier.
Volgens Maarman is dit hul negende verskyning in een van die grootste jeug-sokkerkompetisies ter wêreld, waarin spanne soos Manchester United en Everton se junior spanne ook deelneem.
Maarman meen die klein en fyn middelveldspeler van Pella is ’n aanwins vir sy span en is sy honger vir die spel beslis aansteeklik.
“Dat die vurige en talentvolle sokkerster van Pella vir groter dinge op die sokkerveld bestem is, is nie te betwyfel nie. Met die regte leiding kan hy die hoogste sport bereik,” sê Maarman.
Everton is die huidige kampioene van die toernooi, waarin meer as 64 o.19-spanne van regoor die wêreld deelneem.
- Daar word Vrydag 3 Maart ’n konsert gehou by die Saxonsea-gemeenskapsaal om geld in te samel vir Apollis se Amerika-toer. Lee Stagg, Brent Krus, Gino Cloete, Petas Bass en die Limited Edition Drum Corps (wat te sien was op SA’s got Talent) is van die talent wat op die aand op die verhoog te sien sal wees. Bring jou eie piekniekmandjie saam.
Organiseerder, Dean Goliath, sê hy beoog om ’n soortgelyke konsert ’n jaarlikse instelling te maak om ook ander jeugdiges te kan help.
Vir meer inligting of kaartjies kontak Dean Goliath by 081 453 1663.
Besoek gerus Weskus Nuus se Facebookblad (www.fb.com/Weskusnuus) om ’n kans te staan om twee dubbelkaartjies na hierdie konsert te wen.