Die ATKV-tak Atlantis se bestuur is (van links) Connie Donkerman, Annie Cruywagen, Jolene Bolters, Yolanda Lameyers, Christine Lewis en Annes Davids.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is in 1930 in Kaapstad deur 12 baanbrekers gestig as ‘n organisasie waar mense die vreugde van Afrikaans kon vier.

Vandag is dit ‘n moderne kultuurtuiste met meer as 70 000 hooflede, 30 aktiewe kultuurprojekte per jaar en met ‘n regstreekse uitwerking op meer as 220 000 mense. Die ATKV lewer op sakevlak ook deur sy sewe asemrowende vakansieoorde en die Negester-leefstyllandgoedere vir 50-plussers tot volhoubare sosiale en ekonomiese ontwikkeling by.

Teen hierdie agtergrond het die ATKV-tak Atlantis op 5 Augustus 2015 gestalte gekry in ‘n inisiatief wat deur die Liedjieslypskool geïnspireer en deur die betrokkenheid van Morné van Staden en Elize Fortuin, die streeksbestuurder in die Wes-Kaap, versterk is.

Gemeenskapslede en Liedjieslypskool-finaliste het saam die behoefte aan ‘n kreatiewe ruimte en gemeenskapsversterking raakgesien.

Die tak het hom tot die ATKV se kernwaardes verbind – taal, kultuur, opvoeding, kuns, nasiebou en tuinbou. Die Mini-kultuurfees het Atlantis laat leef met kunstenaars soos Hemelbesem, Anna Davel en Crescendo.

Tydens Vrouemaand is twaalf vroue vir hul diens vereer en Mynie Grové het vroue geïnspireer om hul talente uit te leef – ‘n viering wat tot publikasie en die oordrag aan die Universiteit van Wes-Kaap gelei het. Internasionale Taaldag word jaarliks gevier met sang, dans en voordrag terwyl die leeskamerprojek nasorg en leesbevordering bied.

Seniors van die Weskusklub en inwoners van ‘n plaaslike skuiling is aktief betrokke, wat samehorigheid tussen die geslagte versterk. Vakansie-uitstappies na die Two Oceans-akwarium en iThemba Labantu het kinders se horisonne verbreed en hul selfvertroue versterk.

‘n Gedenkbankie vir Chané Viljoen, saam met ‘n jaarlikse geskenk aan haar seuntjie, hou haar nalatenskap lewendig.

Vyf groentetuinprojekte is van stapel gestuur, insluitend ‘n watertenk geskenk aan een gesin. Jongmense neem aktief deel aan Crescendo, Parkjam en redenaarsgeleenthede. Hoewel interorganisatoriese samewerking beperk is, bly die tak gefokus op plaaslike deelname en volgehoue groei.

Die ATKV-tak Atlantis vier sy tiende bestaansjaar – ‘n dekade van kultuurryke groei, jeugbemagtiging en gemeenskapsbetrokkenheid – op 23 Augustus. Wat begin het as ‘n visie het vorm aangeneem, ‘n

ruimte vir kreatiewe uitdrukking en hoop in Atlantis. Honderd gaste sal gratis by die Saxonsea Primêre Skoolsaal onthaal word vir ‘n gala-geleentheid wat tien jaar se bydraes en impak vier. “Die ATKV-tak Atlantis was nog altyd vir my ‘n familie van hoop,” sê die oud-voorsitter Annie Cruywagen.

Die huidige voorsitter, Yolanda Lameyer, sê sy is dankbaar vir die fondament wat gelê is. “Ek en die lede is gereed om dit verder uit te bou, Met elke projek, elke bydrae en elke droom wat gestalte kry, groei die uitwerking van ATKV-tak Atlantis. Die uitnodiging is – kom raak deel, bou saam, en wees die verskil wat Atlantis verdien.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article