Atlantis-bendelede skuldig aan moord

Vier bendelede van Atlantis is Vrydag 31 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad deur regter Robert Henney skuldig bevind aan die ontvoering van en moord op Clinton Smith.


Vier bendelede van Atlantis is Vrydag 31 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad deur regter Robert Henney skuldig bevind aan die ontvoering van en moord op Clinton Smith.

Smith, ’n vermeende bendelid, is Vrydag 22 Maart 2013 deur Gerrit Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop vermoor.

Die vier se verhoor het in Februarie vanjaar in die hooggeregshof begin en hulle is Maandag 10 Junie gevonnis.

Smith se lyk is met 245 steekwonde in Saxonwold naby die Bush Pub, langs die ou Mamre-Darling-pad, gevind.

Sy voertuig is daar naby gevind. Hy is voordat hy doodgesteek is ook in een van sy bene geskiet.

Luidens die opsomming van die wesenlike feite het die viertal en ’n 204-staatsgetuie op Vrydag 22 Maart 2013 by Franse se huis in Starlingstraat, Robinvale, Atlantis, saamgesweer om Smith te vermoor.

Hulle het hom gebel en genooi na waar hulle was. Smith het in die vroeë oggendure van 22 Maart, vergesel deur ’n vrou, by die huis opgedaag in ’n wit Toyota Tazz.

Volgens die staat het ’n rusie uitgebreek en het Michael die oorledene hard deur sy gesig geklap en het die oorledene op die grond geval. Luidens die staat het Aldrick gesien Smith het ’n vuurwapen en dit by hom afgeneem waarna die oorledene in die been gewond is.

Volgens getuienis in die hof het Franse toe beveel dat hulle Smith van sy huis moet wegvat voordat die polisie opdaag. Die gewonde Smith is in ’n ander voertuig gebondel waarna die twee Adamse, Essop en die staatsgetuie met hom in die voertuig na die Ou Mamre-Darling-pad gery het.

Hier het Michael vir Aldrick, Essop en die staatsgetuie beveel om vir Smith dood te maak. Hulle het die oorledene uit die voertuig gedwing en by die bosse langs die pad ingedwing waar hulle hom 245 keer met messe gesteek het tot hy dood is.

Volgens die lykskouingsverslag was daar veelvuldige steekwonde aan sy lyk. Daar was ook ’n skietwond wat voor sy dood opgedoen is en ’n poging om hom te verwurg.

Die bende-eenheid se hoof, genl.maj. André Lincoln, het Vrydag gesê hy is verheug oor die skuldigbevinding en oor sy lede se werk.

“Ek wil ook net vir die bendes sê wat vandag hier gebeur het, gaan aan die orde van die dag wees. Die teenbende-eenheid is jul nuwe normaal.” – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.