“Ons is gatvol! Atlantis gaan nog baie brand!”
Só het inwoners Dinsdag 21 Augustus aan plaaslike raadslede gesê.
Dit kom ná meer as ’n honderd inwoners die oggend ’n optog na die plaaslike raadskantoor gehou het om ’n memorandum met hul misnoeë aan die raadslede te oorhandig.
Dit was die tweede optog in enkele dae met Witsand-inwoners wat 14 Augustus die ingange na Atlantis geblokkeer het.
Inwoners sê hulle is keelvol vir “leë beloftes oor behuising, hoë munisipale rekeninge en swak dienslewering”.
Raadslid Cynthia Clayton, subraad 1-voorsitter het die memorandum waarin al dié klagte uiteengesit is namens die raadslede ontvang.
Ná die oorhandiging het gemoedere gou oorgekook en van die inwoners het die strate ingevaar waar bande gebrand is omdat die inwoners meen die raadslede neem hulle nie ernstig op nie.
“Ná vandag gee ons nie meer om om nóg 14 jaar vir huise te wag nie, want ons is gewoond aan die omstandighede,” het ’n betoger gesê.
’n Ander inwoner meen raadslede wat op die betogers gevloek het, het die onluste veroorsaak.
“Ons is nie hier vir moeilikheid nie, maar kyk hoe behandel hulle ons. Die raadslede moet f*
Clayton het aan Weskus Nuus bevestig sy het die petisie ontvang en sê sy gaan spoedig daaraan aandag skenk. Sy sê gerugte dat raadslede die betogers gevloek het, is glad nie waar nie. Volgens Clayton het die betogers ook gedreig om raadslede se huise af te brand.
Betogers het besluit om ’n duideliker boodskap aan raadslede te stuur en minute later is die MyCiTi-bushalte gesluit en die pad met brandende bande afgesper.
Wetstoepassers van die stad Kaapstad het probeer om die situasie te ontlont, maar is deur die betogers uitgejou.
Kwaaddoeners wou ook die situasie uitbuit toe hulle nabye winkels bestorm het. Winkeleienaars was egter te vinnig en die dorp se sakekern was vinnig grafstil ná al die winkels se deure gesluit is.
Volgens dr. Ivan Meyer, kiesafdelingshoof vir Atlantis en provinsiale LUR vir finansies, is dit “hartseer om te sien dat ’n klein groepie die dorp onregeerbaar wil maak deur bande in die strate te brand.”
Meyer meen egter die moeilikheidmakers sal nie slaag nie omdat “Atlantis se mense keelvol is vir die handjie vol kwaaddoeners wat poog om die ekonomiese groei van die dorp in die wiele te probeer ry.”
Volgens Fiona Abrahams, plaaslike raadslid van die opposisieparty, is die ekonomiese inspuiting in Atlantis as gevolg van die nasionale regering se ingryping. Sy meen inwoners is keelvol vir swak dienslewering en raadslede wat “slegs geleenthede aan hul familie en vriende gun”.
Een van die organiseerders van die betoging, Mishka Ganief, voorsitter van die Atlantis Concerned Citizens-groep, sê daar was geen politieke motivering vir dié betoging nie.