Dit was ’n rillereindstryd tussen Atlantis City en Wesfleur FC, maar City het sterk gestaan en met ’n eindtelling van 2-1 geseëvier.
Atlantis-sokkervereniging het Saterdag en Maandag (15 en 17 April) hul Paastoernooi op die Robinvale-sportveld aangebied.
Die eindstryd het teen ’n vinnige tempo begin en altwee spanne het duidelik hul oog op die R2 500-kontantprys gehad, maar hardnekkige keerwerk deur albei doelwagters het sake gelyk gehou. City het die voortou geneem ná ’n omstrede doel, nadat die speler vermoedelik die bal met sy hand beheer het, wat die skare warm onder die kraag gemaak het.
Wesfleur het moedig probeer en die spanne het gaan water drink met die telling 1-0 in City se guns. Wesfleur, wat met die begin van die tweede helfte City se doelhok verwoed aangeval het, kon eenvoudig nie die nette laat raas nie. Dit danksy goeie keerwerk deur die City-doelwagter, Nathan Lewis, wat ook as doelwagter van die toernooi aangewys is.
Clayton Daniels het Wesfleur se een hand op die trofee geplaas toe hy die spanne gelyk laat trek het. Justin Maker het egter Wesfleur se hand afgeklap toe hy ná volgehoue druk sy tweede doel vir die wenspan aangeteken het om die trofee en goue medalje aan City te besorg.
Die span wat die trofee vir die mees ongelukkigste span moes kry, is beslis Pella Sporting. Dié span het reeds in die uitklopronde gewys dat hy sy oog op die gesogte prys het, toe hulle die verdedigende kampioen, Atlantis Leeds, in die kwarteindstryd met 4-3 geklop het.
Pella se doelwagter, Navan Apollis het met akrobatiese keerwerk sy span binne bereik van goud gehou, maar die span het in die halfeindstryd in die stof gebyt teen die uiteindelike wenners. Die stryd tussen Pella en City sal seker nog lank by die Pella-afrigter spook nadat Pella mooi teruggeveg het teen City en die stryd gelyk geëindig het.
Pella se doelskieters het egter die span tydens strafskoppe in die steek gelaat en het hulle met 4-1 teen City van die strafkol verloor.
Pella het egter die span van Robinvale vir die derde plek geklop nadat die stryd ook van die strafkol beslis moes word ná ’n 1-1-gelykopuitslag.
Robinvale is vroeër deur Wesfleur met 1-0 geklop vir hul plek in die finaal.
Atlantis City het ook skoonskip gemaak met die ander toekennings op die dag; Graig Frazenburg is as topdoelskieter en Donovan van Niekerk, is as speler van die toernooi aangewys.
Volgens Claude Brown, voorsitter van die Atlantis-sokkervereniging, sal die liggaam eers vergader voordat liga-wedstryde begin, omdat die toestande van sportvelde bespreek moet word.
Brown sê die kanse dat die liga-wedstryd later gaan begin, is groot, maar dit sal in die vergadering bespreek word.