’n Samestelling van Atlantis se kleurryke geskiedenis is by die Wesfleur-biblioteek te sien.
Die geskiedkundige uitstalling is saamgestel deur die Wes-Kaapse Museumdienste.
Volgens Tania Colyn van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, gaan die uitstalling opgevolg word deur ook inwoners se insae en verbintenis met Atlantis te bekom.
Volgens Wikipedia is Atlantis in die 1970’s gestig deur die apartheidsregering as ’n industriële kern en gemeenskap vir die gekleurde bevolking van Kaapstad, onder die berugte Groepsgebiedewet.
Die apartsheidsregime het destyds maatskappye gelok met verskeie voordele soos belastingskrediet en elektrisiteitsubsidies, indien hulle na die dorp sou skuif.
In die vroeë tot middel-1980’s was daar ongeveer 50 produktiewe fabrieke in Atlantis, wat werk aan meer as 8 000 mense verskaf het. Atlantis Diesel Engines en Teledex was van die grootste werkverskaffers toe. Dinge het begin verander in die dorp met die beëindiging van die aansporings-voordele.
Met die nasionale ekonomie wat baie uitdagings ervaar het die plaaslike ekonomie gestabiliseer en toon sterk groei met die uitbreiding van vyf bestaande fabrieke. Die grootste nuwe belegging is die aankondiging van die Tsjeggiese tekstielreus Pegas, wat R1,3 miljard in Atlantis gaan belê.
Die uitstalling gaan vir ’n onbepaalde tyd by die Wesfleur-biblioteek te sien wees.