Saxonsea Sekondêr is weer eens die dorp se topskool met ’n 90,6-slaagsyfer – een persent beter as 2021, toe die skool 89,6% behaal het. Die skool het nou reeds agt jaar agtereenvolgens die beste slaagsyfer in die omgewing.
Die Hoërskool Robinvale het as naasbeste sy slaagsyfer van 85,6 in 2021 tot 86,1% in 2022 verhoog. Volgens Vaughan Murray, Robinvale se hoof, is die uitslag verrassend.
“Ek is verheug omdat ons ons gemiddelde teiken van 85% met 1,1% oorskry het,” het Murray gesê.
“Ek is net die skip se kaptein; die leerders en opvoeders moet die krediet kry,” het hy tevrede vertel.
Hilton Smith, die hoof van Proteus Sekondêr, kon nie sy opgewondenheid bedwing nie. “Ons slaagsyfer het algeheel met 10% gestyg – van 74% tot 84,6%,” het Smith gesê.
“Kyk na ons uitslae: 100% in tien vakke, 90% in drie en 80% in twee, en daar is baie min skole van ons soort wat sulke resultate kan lewer.”
Tussen die Atlantis se toppresteerder Jayden Pickering, wat 73% behaal het, was daar ’n skraal 1% tussen hom en Mikeillah Jansen in die tweede plek, wat 72% behaal het.
Atlantis Sekondêr het die swakste gevaar nadat sy gemiddelde slaagsyfer van 71% die vorige jaar tot 66,5% in 2022 gedaal het.
Dié skool het egter die top matrikulant in Atlantis opgelewer – Cayla Albertyn het 81,3% behaal.