Danksy ’n nuwe MyCiTi-busroete sal inwoners van Atlantis en omliggende gebiede gerieflik by die see kan uitkom.


Inwoners van Atlantis en omliggende gebiede kan die komende feesseisoen lekker by die see kuier danksy ’n nuwe MyCiTi-busroete wat na Silverstroomstrand sal reis.

Dit kom nadat ANC-propor­sionele raadslid, Fiona Abrahams, ’n mosie verlede jaar op 16 Februarie by ’n subraad 1-vergadering ingedien het.

Deel van Abrahams se motivering vir dié mosie was dat die strand slegs 10 km weg van die Silwerstroom-woonbuurt is, maar tog het mense weinig toegang aangesien die strand slegs met privaat vervoer bereik kan word.

Sy het voorts aangevoer inwoners van dié gebied verkies dit eerder om Melkbosstrand toe te gaan omdat dit op ’n gevestigde busroete is. Inwoners voel glo die reis na Melkbos is onregverdig omdat hulle slegs ’n klipgooi van ’n blouvlag-strand is. Abrahams sê voorts dit raak duur vir inwoners wat nie privaat vervoer het nie om gedurende die feesseisoen die strand te besoek.

Volgens Claire Holderness, van die Stad Kaapstad se vervoerafdeling, het amptenare vroeg in Mei vanjaar met raadslede vergader om die mosie te bespreek en skouer is aan die wiel gesit om die MyCiTi-busse na die strand te bring. Die bus sal vir eers net in openbare vakansiedae en naweke oor die skoolva­kansie ry. Die roete sal dus Saterdag 15 Desember begin en tot Sondag 6 Januarie 2019 duur. Holderness sê die Kaapse stadsraad gaan nie ’n deur-tot-deur-opname, soos voorgestel in die Mei-vergadering, doen nie, maar eerder die behoefte vir die diens monitor.

Indien daar genoegsame belangstelling is, sal ’n verlenging van die busdiens tot Maart 2019, oorweeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025