“Ek wil so graag ons jeug van Atlantis motiveer om alle geleenthede wat hulle kan help om sukses te bereik, aan te gryp.”
Só sê advokaat Jubeida Behardien.
Jubeida vertel sy sou aanvanklik onderwyskollege toe gegaan het, maar het getrou en haar kinders grootgemaak.
Toe haar kinders klaar is met skool, het sy saam met hulle by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer. Jubeida is ook verkies tot UWK se studenteraad. Sy is passievol as sy vertel hoe haar naam op die muur van die studenteraadkantoor gegraveer is as die student wat die beste presteer het. Ongelukkig weens familieverpligtinge moes sy opskop.
Sy het in verskeie sektore gewerk terwyl sy deeltyds haar LLB deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gestudeer het en ook ’n diploma in arbeidsverhoudinge bestuur ontvang het.
Sy het uiteindelik in 2016 haar graad gekry en haar praktiese opleiding in 2017 begin tot sy in 2018 as advokaat toegelaat is.
“Die Behardien-familie het dit nie maklik gehad nie dit het baie deursettingsvermoë gekos. Gelukkig, kon almal van ons met beurse studeer,” vertel sy. ’n Mens kon hulle altyd in die biblioteek op kampus kry, want ’n prokureur moet ’n passie vir lees en navorsing hê.
Volgens Jubeida was sy gemotiveer deur haar skoonfamilie wat die kinders ondersteun het. Sy vertel die omstandighede as enkelouer het hulle gedwing om deur te druk vir oorlewing. Jubeida vertel dat haar kinders almal die dag van haar toelating as advokaat in die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n traan van blydskap kon afvee.
Familie
Sumaya, die oudste van drie kinders uit die Behardien-huwelik, het ook LLB studeer en op 21 jaar graad gevang. Sy praktiseer in Atlantis en omliggende gebiede. Sy het as staatsaanklaer gepraktiseer en is ’n gekwalifiseerde prokureur, notaris, aktebesorger, met verskyning in die hooggeregshof en doen nou haar meestergraad. Jubeida sê ook op ’n ligter noot dat sy en haar dogter goed as regsgeleerdes saamwerk.
Haar seun, Fuad, het in die wetenskap studeer en Yumna, haar jongste, wat nog op skool was toe sy swanger geword het, het haar graad in sielkunde voltooi en haar prakties by Stikland se psigiatriese hospitaal gedoen. Sy werk nou aan haar honneursgraad. “My kleinseun, Zaid, was op UWK se kleuterskool tot hý gegradueer het vir skool,” grap Jubeida.
Jubeida sê sy is uiters trots op haar kinders en noem sagkens hulle is standvastig en sterk in geloof.
Gemeenskap
Jubeida is tans die voorsitter van die Radio Atlantis-bestuur en beywer haar om terug te ploeg in die gemeenskap, al is dit net met regsadvies.
Sy sluit af met ’n sterk boodskap: “Jy is nooit te oud om te leer nie, ouderdom is net ’n nommer. Staan op en doen iets, jou toekoms is in jou hande, dis jou drome!”