Atlantis-man vertel van moskee-aanval

Ziyaad Shah (47) het 12 jaar gelede van Atlantis af na Nieu-Seeland verhuis vir ’n beter toekoms, maar nou lê hy in ’n hospitaalbed nadat hy die terreuraanval op die Al Noor-moskee oorleef het.


Ziyaad Shah (47) het 12 jaar gelede van Atlantis af na Nieu-Seeland verhuis vir ’n beter toekoms, maar nou lê hy in ’n hospitaalbed nadat hy die terreuraanval op die Al Noor-moskee oorleef het.

Ziyaad was een van die talle Moslems wat Vrydag 15 Maart in die Al Noor-moskee in Christchurch was toe ’n terroris op die moskee losgebrand het.

Dié man het 42 Moslems afgemaai en meer as 50 mense, onder wie Ziyaad, is gewond.

“Ek is eers in my agterent getref waarna ek nog twee keer in die been getref is. Ek kon duidelik die musiek hoor wat die aanvaller speel terwyl hy al skietende deur die moskee geloop het,” verduidelik hy.

“Ek het aan een van die gewondes gesê om doodstil te bly, want die aanvaller het teruggekom en kyk of daar nog mense is wat beweeg. Hy het snaakse musiek gespeel en het reg agter my kom staan en op mense geskiet wat beweeg het,” het Ziyaad van die gruweldade vertel.

Hy sê die vrees en paniek op die oorlewendes se gesigte toe alles weer stil geword het, sal hom altyd bybly.

As een van die oorlewendes het Ziyaad tussen ander gewondes en dooie gelowiges gelê.

Ek het onmiddellik 111 (die plaaslike noodnommer) geskakel en gelukkig gou deurgekom. Daarna het ek my vrou, Shamilah, gebel.”

Ziyaad is deel van die Shah-familie, wat baie bekend in Atlantis is.

Hy het verlede jaar by sy familie in Atlantis kom kuier. Hy word nou deur sy vrou en hul drie dogters in die hospitaal ondersteun.

Familielede hier sê hulle is geskok en hartseer oor die gebeure, maar is verlig Ziyaad het oorleef.

Die Australiese verdagte (28) het die aanval op die Al Noor-moskee regstreeks op Facebook uitgesaai en het minute ná die terreuraanval by Al Noor op ’n tweede moskee losgebrand.

Agt mense is in die tweede aanval dood en talle beseer.

Die aanvaller is deur die polisie in hegtenis geneem voordat hy by ’n derde moskee kon uitkom, het die Nieu-Seelandse media berig.

You need to be Logged In to leave a comment.