Plaaslike organisasies het weer eens bewys die gees van Nelson Mandela se legandariese nalatenskap sal vir altyd voortleef.
Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez), subraad 1 se “Family in focus” en die plaaslike polisie het verskeie inwoners op Mandeladag (Vrydag 18 Julie) bederf.
Dié dag word jaarliks herdenk.
Volgens Wessie van der Westhuizen, die bestuurder van subraad 1, het hulle 20 warm komberse ontvang, wat hulle saam met personeel van die Mamre-biblioteek en gesondheidwerkers aan behoeftige inwoners gaan uitdeel het.
Die Asez het senior burgers by verskeie ouetehuise besoek en nie-bederf- bare kos uitgedeel. Dit is ‘n herhaling van verlede jaar se projek, het Hlumela Nama van die Asez verduidelik. “Dit bewys dat die Asez tot die opheffing van die gemeenskap verbind is,” het sy gesê.
Reuben Kadalie, die uitvoerende direkteur van Abbeyfield, het gesê: “Ons waardeer hoe die Asez Mandela se oproep tot diens uitleef. Vennootskappe soos hierdie laat Abbeyfield se kwesbare seniors veilig, gehuisves en verbind voel.”
Selwyn Willoughby, die uitvoerende beampte van geïntegreerde ekostelsels by die Asez, het bygevoeg: “Terwyl ons bou aan ‘n groener, meer inklusiewe ekonomie en samelewing, moet ons nooit diegene wat voor ons gekom het, uit die oog verloor nie.
“Om terug te gee aan ons bejaardes is nie net ‘n gebaar van dankbaarheid nie – dit is ‘n herinnering dat ware ontwikkeling gemeet word aan hoe ons na die kwesbaarste onder ons omsien.”







