Twee van Atlantis se topmodelle sal vanjaar in die groot Mej. Wes-Kaap-kompetisie meeding.
Talle skoonheidskompetisies word jaarliks in Atlantis gehou waar die room van die dorp se modelle meeding, en dié dorp het gewis geen tekort aan deelnemers nie.
Vir baie gaan dit oor meer as net ’n mooi gesig, maar om ’n rolmodel vir ander meisies te wees – en dit is presies wat die Atlantis-modelskool hul studente leer.
Volgens Verquleen Hendrikse, stigter van die skool, het sy die skool in Oktober 2013 begin met slegs ses leerders. Vandag pronk dié skool met meer as 30 hoopvolle modelle.
Volgens Hendrikse word studente nie net gewys hoe om op die loopplank te loop nie, maar ook om dissipline en respek aan ander te toon. Die studente leer ook verskeie lewensvaardighede, wat grimering en lewensoriëntering insluit.
Twee van die skool se studente, Logan Hansen en Aneesah Ismail, het onlangs aan Tario Model Management se Coastal Kings & Queens-kompetisie deelgeneem.
Logan is Saterdag 30 Maart as die Coastal junior koningin gekroon en Aneesah as Coastal-prinses.
Hulle sal later vanjaar aan die Mej. Wes-Kaap-kompetisie saam met Tia Jackson en Elnicha Arendse deelneem.
Ciara Booysen, Tereshka Constable en Tiah Jackson van die skool sal in Mei aan die Mej. Kaapstad-kompetisie in die tienerafdeling deelneem.


