Atlantis reg vir nuwe seisoen

Atlantis-rugbyklub wat in die Westelike Provinsie-liga (noordelike streek) speel, wil hierdie seisoen verbeter op sy treurige vertoning van verlede jaar.


Atlantis-rugbyklub wat in die Westelike Provinsie-liga (noordelike streek) speel, wil hierdie seisoen verbeter op sy treurige vertoning van verlede jaar.

Volgens die klub se bestuurslede het hulle ondersoek ingestel en gaan die klub hierdie jaar baie strenger dissi­pline op sy lede toepas.

Die bestuur het erken dat dissipline en respek vir mekaar nie na wense was nie.

Volgens die instaan-afrigter, Eben Jansen, is hy baie opgewonde oor die seisoen.

Jansen meen die span se eerste doelwit is om die meeste van die voorbereidingswedstryde te wen. Hy sê met die ligaverpligtinge wat 6 April afskop, wil Atlantis graag ná die eerste ronde boaan die punteleer wees.

Jansen sê ook dat 96% van die eerstespanspelers jonk is.

“Atlantis-rugbyklub se nuwe era het aangebreek en ons weet daar is nog baie uitdagings, maar ons hanteer dit soos dit kom. Die bestuur het die afrigtingskorps vergroot en dit maak elkeen se werk makliker,” sê Jansen.

Atlantis-rugbyklub sê ondersteuners kan dié seisoen uitsien na ’n meer gedissiplineerde en opwindende span. Die span het ook aan die pas afgelope Wesbank-sewestoernooi deelgeneem en sal ook aan die Darling-toernooi deelneem.

Volgens Lizzie Mentoor, sekretaris van die klub, gaan Atlantis-rugbyklub meer betrokke raak in die gemeenskap en wil die klub die laerskole as basis gebruik om rugby in die dorp te ontwikkel.

“Atlantis-rugbyklub sal weer een van die grootste en mees gerespekteerde sportklubs in die omgewing word,” meen die bestuurslede.

You need to be Logged In to leave a comment.