Atlantis-rugbyklub het Saterdag 18 Februarie sy eerste vriendskaplike wedstryd vir 2017 op sy tuisveld op ’n lae noot begin.
Die span het teen Dassenberg, wat die meeste balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, 23-10 vasgeval. Dassenberg was van die afskop dominerend en het die duidelik onfikse tuisspan in alle fasette van die wedstryd oorheers.
Kaptein Taswill Paulse, en die losvoorspeler, Foni Damon, het by tye gewys daar is hoop, as die afrigters net wil raakvat met hul spankeuses, want die jong Sergio Martin klop geruime tyd reeds aan die eerste span se deur, maar niemand maak oop nie.
Rooiligte flikker reeds geruime tyd by die klub met oudspelers wat glo afrigter Jaseen de Jongh, ’n groot aanhanger van Heynecke Meyer, probeer om ’n span te bou met ouer spelers.
Die oudste speler in die span is reeds 44 jaar oud en die bestuur, met die afrigtingspan, sal vinnig hul huis in orde moet kry of donker dae lê voor vir die eens trotse span.
Volgens de Jongh, was sy span nie wedstrydfiks nie en weens beskikbaarheid van ander spelers moes hy met die ouer spelers begin. De Jongh sê verder dinge is besig om te verander en “die veranderings sal reeds in ons volgende wedstryd te sien wees”.