Atlantis sal gereed wees met bekwame ambagsmanne sodra die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SES) afskop.
Só meen Albert Fritz, provinsiale LUR vir maatskaplike ontwikkeling, wat die tegniese opleidingsentrum by Lesedi Vrydag 12 April besoek het.
Fritz sê dit sal nie nodig wees om bekwame ambagslui van buite die dorp te kry nie en het hom daartoe verbind dat sy departement 30 jeugdiges vir opleiding as bekwame ambagslui by die sentrum sal subsidieer.
Meer as 100 vakmanne en -vroue is al by Lesedi in ’n ambag opgelei. Volgens Fritz bemagtig die opleiding jeugdiges waarvan die meeste tans werkloos is en sê dit maak hom opgewonde dat daar hoop vir die jeug is.
Natasha Africa, bedryfsdirekteur van Lesedi, sê hulle is verbind tot die ontwikkeling van die plaaslike jeug.