‘n Inwoner wat van verskeie seksuele en ander misdade verdink word, is nog elke keer op borgtog vrygelaat, wat inwoners behoorlik laat gal braak het.
Volgens Janine Passenz van Survivors Haven, wat slagoffers bystaan, is die verdagte se jongste slagoffer slegs 10 jaar oud.
Dié voorval twee weke gelede in Kanonkop, het veroorsaak dat nog ‘n 20-jarige verkragtingslagoffer ook die verdagte positief uitgeken het.

Volgens ‘n betroubare bron was die slagoffer aan die 10-jarige se familie bekend.
Die verdagte het verlede week in die hof verskyn en sal op 28 Augustus om borgtog aansoek doen.
Volgens ‘n betroubare bron het die verdagte ten spyte van positiewe DNS-bewyse in 2010 en 2014 vry uit die hof gestap omdat die families nie meer met die sake wou voortgaan nie.
Intussen het ‘n 20-jarige slagoffer die verdagte herken op foto’s wat op sosiale media versprei is. Die 20-jarige het aan WeskusNuus vertel sy kon nie haar verkragter beskryf nie, maar sy sou hom gewis kon uitwys. Sy sê sy het op Sondag 28 Junie van haar ma se huis in
Robinvalle na haar plek gestap en die man, wat ‘n vuurwapen in sy hand gehad het, gesien. “Ek het gefreeze omdat ek bang was,” het sy gesê. “Hy het gesê ek moet omdraai. Hy het my tot agter Parker se winkel laat loop, waar hy besluit het ons moet weer omdraai,” vertel sy.
“Ek het hom gevra hoekom moet ek weer saam met hom omdraai en hy het net gesê ek loop net saam terwyl hy my met die vuurwpen gedreig het.”
Sy vertel emosioneel verder: “Ek het toe gedoen wat hy gesê het omdat ek vreesbevange was en ons het omgedraai en by ‘n hoekhuis gekom waarvan die voorkant van die erf oop was.
“Hy het met my deur die een erf geneem na die huis langsaan, waar ek gesoebat en gepleit het hy moet my nie seermaak nie en eerder laat gaan, maar my pleidooie het op dowe ore geval,” sê sy.
“Daar was ‘n klein bossie agter die boom en hy het gesê ek moet daar gaan lê en my klere uittrek. Ek het hom gesoebat om my eerder te laat gaan, maar hy het voortgegaan met sy daad.
Hy het sy gesig toegemaak toe hy besef ek ken sy gesig. Toe hy klaar sy daad gedoen het, het hy my beroof en net so gelos – sonder skoene ook …”
Volgens die polisie is net ‘n verklaring nog uitstaande voordat die verdagte ook weens die verkragting van die 20-jarige aangekla gaan word.





