Atlantis-span kán kamp inrig

Atlantis se mense ken van kamp, en kamp kan hulle kamp!.


Atlantis se mense ken van kamp, en kamp kan hulle kamp!

Só sê Linette White, die leier van Atlantis Amfibies, wat aan “Kom ons Kamp,” ’n program op Via Dstv-kanaal 147 deelgeneem het.

Atlantis Amfibies bestaan uit Linette, haar man, Jeffrey, hul seun, Rushaad, Candice Saligee en Lizel Skattie. Die spul het behoorlik stof in die oë van al die ander kampeerders geskop toe hulle die ronde gewen en met pryse van R17 500 weggestap het.

Die kampeerders het vir twee dae kamp by Ou Skip in Melkbosstrand opgeslaan.

Volgens Linette het die senuwees begin knaag omdat die ander deelnemers baie intimiderend voorgekom het. “Ons het maar koelkop gebly en die geluksgodin het reeds op die eerste dag vir ons gesmile,” meen sy.

“Een van die spanne het nie al hul tentpenne gehad nie en ek het besluit dat ons onmiddellik die situasie moet uitbuit en hulp aangebied in ruil vir ’n punt.”

Hoewel die ander span nie die hulp aanvaar het nie, het sy en haar span nogtans die punt gekry.

“Die grootste uitdaging was die leiding wat ek moes gee met die tentopslanery terwyl die twee wat moes tent opslaan, dit met hul oë toegebind moes doen.

“Ons strategie was baie eenvoudig – om met al twee spanne se koppe te smokkel. Dit het ons die deurslag gegee. Dit was ’n regte leerproses vir ons almal. Ons het ook gereeld onder mekaar gestry, maar nogtans daarin geslaag om koelkop te bly,” sê sy.

“Ons het gegaan om vir die wêreld te wys dat Atlantis se mense kan kamp en sal ander aanmoedig om dit te probeer,” vertel Linette.

You need to be Logged In to leave a comment.