Verskeie minibustaxi-operateurs het besluit om wel tydens die twee dae lange staking dienste te lewer. Foto: Murphy Roberts


Terwyl geweld reg oor die Kaapse metro tydens die minibustaxi-staking Maandag en Dinsdag (21 en 22 November) uitgebreek het, was Atlantis stil.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, is een geïsoleerde voorval aangemeld, maar dit is baie gou opgelos.

Sommige in die sektor het nie hul taxi’s bedryf nie, terwyl verskeie ander operateurs wel passasiers vervoer het. Die MyCiti- en Golden Arrow-busdiens in die gebied het ook gery en twee busoperateurs het pendelaars op sosiale media van enige probleme op hoogte gehou.

Kommer dat die optogte en geweld van ander gebiede hierheen sou oorwaai, is in die kiem gesmoor terwyl busse en ander voertuie in dele van die metro en Weskus-streek beskadig en uitgebrand is.

Volgens Christie Prins, voorsitter van die plaaslike taxi-vereniging, het baie operateurs besluit om as deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se staking nie te ry nie.

Taxi-operateurs het gestaak weens die daaglikse skut van taxi’s, groot verkeersboetes en die Blue Dot-aansporingsprogram wat môre (Woensdag 30 November) tot ’n einde kom. Hierdie program beloon taxi-bestuurders vir gehaltediens en verbeterde bestuurdergedrag.

Die Wes-Kaapse regering het onlangs gesê hy kan nie dit meer finansier nie.

Prins het gesê ander taxi-operateurs het voortgegaan om dienste te lewer.

“Skoolkinders is geraak deur taxi-operateurs wat gestaak het, maar ons kon niks daaraan doen nie. Ons het die staking ondersteun, maar nie deur geweld nie,” het hy gesê.

Bestuurders wat wel tydens die twee dae lange staking dienste gelewer het, het aan Weskus Nuus gesê hulle het niks met die staking te doen nie en was bereid om die kans te waag om te ry.

“Ons moes dit eenvoudig waag, want sonder passasiers is die besigheid dood. Inwoners ondersteun ons en ek kon eenvoudig nie my kliënte net so los nie,” het een bestuurder erken.

Dié bestuurder, wat gevra het dat sy naam nie genoem moet word nie, het ook erken dat die twee dae baie winsgewend was aangesien nie almal pendelaars vervoer het nie en “dit is maar waaroor dit gaan aan die einde van die dag”.

Volgens Prins het talle taxi-eienaars besluit om uit respek vir die staking nie hul voertuie beskikbaar te stel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.