Atlantis-verdagtes maak amok in Yzerfontein

Die rustige dorp Yzerfontein is die naweek oornag in ’n misdaadnes verander toe gewapende rowers amok gesaai het.


Die rustige dorp Yzerfontein is die naweek oornag in ’n misdaadnes verander toe gewapende rowers amok gesaai het.

Goeie samewerking tussen polisielede van Darling en Atlantis het verseker dat drie mans Maandag 20 Augustus in die vroeë oggendure aangekeer is.

Die vermeende rowers is almal van Atlantis.

Die drie het Sondagaand hul sending begin toe hulle ’n rooi Toyota Corolla in Atlantis gesteel het. Die gewapende mans is hierna na Yzerfontein waar hulle ’n rubberboot probeer steel het.

Dit was ook hiér waar hulle met die gereg gebots het.

’n Oor-en-weer-skietery tussen die verdagtes en die polisie het uitgebreek. Niemand is in die voorval beseer nie.

Volgens kapt. F.C. van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het een van die verdagtes beheer oor die gesteelde motor verloor en naby Yzerfontein van die pad af gery, waarna die insittendes die hasepad gekies het. Die mans het in verskillende rigtings weggehardloop.

Een van hulle het, terwyl die polisie, buurtwagte, plaaswagte en lede van private sekerheidsmaatskappye na die verdagtes gesoek het, by die Weskus-padstal ingebreek.

Twee ander het ’n vrou omstreeks 07:30 op ’n nabye pad in die omgewing in haar motor gekaap terwyl sy op pad werk toe was. Dié twee het met hul nuwe gesteelde ryding by ’n nabygeleë kleinhoewe stilgehou en daar ook toegeslaan.

’n Verdagte is later op die Weskus­pad/R27 aangekeer en nog twee is later in Atlantis in hegtenis geneem. Volgens ’n polisiebron is die verdagtes vermeende bendelede.

Een van die mans het reeds ’n bekentenis afgelê.

Die bron sê inligting in die bekentenis het tot die inhegtenisneming van sy makkers gelei.

Van die gesteelde goedere is teruggevind. Drie verdagtes is teen Dinsdag vasgekeer.

You need to be Logged In to leave a comment.