Atlantis gaan Saterdag 29 April woel van opwinding, want die heel eerste ATKV -kultuurfees gaan by Wesfleurpark gehou word.
Die tema van die fees, wat deur die plaaslike tak aangebied word, is “We Unite” en die hek open om 11:00.
“Ons werk reeds ’n geruime tyd aan die beplanning vir hierdie fees met ’n doel om die gemeenskap bymekaar te bring deur musiek, kultuur en ’n viering van Afrikaans,” verduidelik Annie Petersen, voorsitter van ATKV Atlantis.
Die feestelikheid sal optredes deur plaaslike kunstenaars soos Priscilla, D.O.E.P, Remy E insluit met radiosensasie, Oom Diffie, as seremoniemeester.
Die Crescendo 2016-finaliste sal ook vanaf 12:00 te sien wees tydens die ATKV-Crescendo Grensloos-konsert.
Hier sal plaaslike talent soos Emma-Jo Arendse, Francis (Kiepie) Brown en Whaden Johannes feesgangers op die verhoog vermaak saam met gaskunstenaars, HemelBesem en sy vrou, YOMA, asook DieHooflig, Anna Davel en Oxijin.
Die ATKV-rieldansers gaan ook kom stof opskop en Atlantis se eie trompoppies sal ’n demonstrasie lewer.
Vermaak vir kinders vir die dag sluit in stampkarretjies, springkastele en ’n hele rits ander aktiwiteite.
Daar sal kosstalletjies wees om van te kies en te keur, feesgangers sal hulle kan verlustig in braaivleis, potjiekos en roeties, om maar net ’n paar te noem.
Volwassenes sal al die lekkereet kan afspoel met ’n lekker koue bier uit die biertuin.
Al die vermaak en pret word aangebied teen baie bekostigbare pryse: Toegang vir volwassenes is slegs R30 en vir kinders jonger as 12, R10. Vir meer inligting of kaartjiebesprekings kan Annie 073 397 9717, Rachel 078 329 0630 of Carol 071 088 2879 gebel word.