Atlantis wen drie, mis een

Die Atlantis Baggy Blues het Saterdag in sy eerste eendagwedstryd op Robinvale teen die span van Wynberg vasgeval nadat hy drie wedstryde in die AMA-T20-reeks gewen het.


Die Atlantis Baggy Blues het Saterdag in sy eerste eendagwedstryd op Robinvale teen die span van Wynberg vasgeval nadat hy drie wedstryde in die AMA-T20-reeks gewen het.

Atlantis het in die WP- Afdeling C-reeks reeds vir die T20-halfeindronde gekwalifiseer toe hy eerste maklik met Belhar klaargespeel het. Die Baggy Blues het in die wedstryd op Robinvale eerste gekolf en ’n skaflike 112/7 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.

Die Baggy Blue-boulers het daarna die besoekers vir ’n skamele 49 lopies uitgehaal.

Die span het later dieselfde dag ook met Helderberg afgereken. Die wedstryd, wat uitgereën het, het egter aan die tuisspan ’n oorwinning volgens die Duckworth Lewis-metode besorg danksy ’n beter lopietempo.

Die span se derde oorwinning en ’n plek in die uitspeelronde het teen Bluedowns gekom. Atlantis het weer ’n skaflike teiken vir sy teenstanders opgestel. Sy 156 lopies was meer as genoeg en met die boulers wat nie teleurgestel het nie, het die Baggy Bues ’n oorwinning van 37 lopies verseker.

Die span gaan Sondag probeer om sy onoorwonne status in die AMA-T20 te behou wanneer hy na Cravenby reis. Baggy Blues fokus nou op ’n plek in die eindronde op Nuweland later vanjaar.

Met ’n nederlaag van sewe paaltjies teen Wynberg Saterdag in die span se eerste eendagwedstryd, kon die kolwers nie voortbou nadat die openingspaar – Carlo Solomons (11) en Lucas Damonse (36) – goed begin het nie. Jade Whites is die enigste ander kolwer wat weerstand gebied het terwyl die paaltjies gereeld gekantel het. Whites het 18 lopies bygedra en slegs drie kolwers kon dubbelsyfers behaal.

Die besoekers het egter nie op hulle laat wag nie en die teiken in slegs 14.1 boulbeurte behaal, met sewe paaltjies nog in die bank.

Atlantis reis Saterdag na Helderberg vir sy tweede eendagwedstryd, en met die eerste nou agter die rug, sal die senuwees dalk nie meer pla nie en sal hulle ’n beter wedstryd kan speel.

Atlantis se tweede span sal Goodwood hierdie naweek in Robinvale pak.

You need to be Logged In to leave a comment.