Atletiek in Atlantis is gesond en dit kan net beter en beter raak.
Dit was die woorde van Gary Markus, voorsitter van die Atlantis Primêre skole se atletiekvereniging, Vrydag 3 November by ’n funksie by Wesfleur Primêr-skoolsaal waar jong atlete vereer is.
Volgens Markus het kring 10, wat Atlantis en Melkbosstrand se skole insluit, vanjaar altesaam 32 Metro-Noord, 14 Westelike Provinsie en vyf Wes-Kaapse atlete opgelewer.
Dwayne Minnies van Saxonsea Primêr het gesorg vir ’n stukkie geskiedenis toe hy die eerste plaaslike atleet geword het wat drie goue medaljes by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap kon wen.
Minnies is ook as die kring se Atleet van die Jaar (seuns) aangewys met Anke Botes van Laerskool Van Riebeeckstrand as die Beste Meisieatleet. Anke het 11de plek behaal in die o. 12-verspring by die nasionale kampioenskap in Potchefstroom.
Volgens Markus gaan die twee atlete beslis nog baie hoogtes bereik as hulle reg bestuur word en is albei lede van die Velocity-atletiekklub in Atlantis, waar hulle deur Tashwell Adams afgerig word.
Ander atlete wat aan die nasionale byeenkoms deelgeneem het, was Daiman Titus van Pella Primêr, Cassandra Malgas van Wesfleur Primêr en Shaniel Williams van Kerria Primêr.