Atletiek is gesond in Atlantis

Dwayne Minnies het in die Suid-Afrikaanse laerskole-atletiekkampioenskap in Germiston geskiedenis gemaak toe hy die eerste atleet geword het wat twee jaar agtereenvolgens vier goue medaljes gewen het.


Dwayne Minnies het in die Suid-Afrikaanse laerskole-atletiekkampioenskap in Germiston geskiedenis gemaak toe hy die eerste atleet geword het wat twee jaar agtereenvolgens vier goue medaljes gewen het.

Dwayne, wat vanjaar in die o.13-afdeling hardloop, het weer goud in die 100 m, 200 m, verspring en 4×100 m-aflos gewen.

Die prestasie het hom bo die land se ander atlete laat uitstaan. Hy het die afgelope vier jaar altesaam 12 goue medaljes by die SA kampioenskap gewen.

Dwayne, wat die jaar sy skool loopbaan by Robinvale Sekondêr voortsit, het nie alleen geskiedenis by die laerskool byeenkoms gemaak nie, maar sy prestasies is geen gelukskoot nie.

Volgens sy afrigter, Tashwell Adams, het Kyle Doyle en Liechen Roberts ook elk met ’n silwer medalje teruggekeer.

Kyle het silwer in die 4×100 m-aflos vir seuns o.11 gewen. Liechen het haar silwer medalje in die 4×100 m-aflos vir meisies o.12 verwerf.

Skole reg oor Suid-Afrika staan tou om Atlantis se goue seun te werf, maar Adams sê dit sal gewis nie gebeur nie.

Volgens Adams het WP Atletiek reeds aangebied om Dwayne een van die 10 uitsoekatlete vir hul akademie te maak.

Adams sê atletiek is gesond in Atlantis met nog vier atlete op klubvlak wat uitgeblink het.

Hulle was Manedo Hendricks (o.18) wat silwer vir die 800 m gewen het, Lawon Hill (o.18) met goud vir 100 m, Anastacia Adams (o.20) wat goud as lid van die 4×100 m-aflosspan gewen het, en Chelsea Percady wat silwer in die 4×100 m-aflos vir meisies o.16 by die onlangse klubkampioenskap in Parow losgehardloop het.

You need to be Logged In to leave a comment.