Aubrey kry ‘tweede kans’ met nuwe prostese

Aubrey Meyer is maar ’n doodgewone 11-jarige seun.


Aubrey Meyer is maar ’n doodgewone 11-jarige seun.

Die enigste teken dat daar iets anders aan hom is, is ’n klein prostetiese voet onderaan sy skoolbroek wat 360 grade kan draai.

Die gr. 4-leerder aan Parkview Primêr, is met ’n halfgevormde linkerbeen gebore.

Pa Niklaas het vertel: “Aubrey se ma het tydens haar swangerskap begin siek voel. Dokters het vermoed sy het kanker in haar baarmoeder. Sy was na ’n ander hospitaal oorgeplaas vir verdere toetse. Daar was seker ’n misverstand tussen die hospitale en hulle het haar vir kanker behandel al was sy swanger.”

Sy het toe nooit kanker gehad nie.

Meyer is kort daarna met ’n halfgevormde linkerbeen gebore, wat toe ’n maand later onder die knie geamputeer is.

Die klein vegtertjie het die eerste jaar van sy lewe in die hospitaal deurgebring en dit was ’n aanpassing vir sy familie toe hy uiteindelik huis toe kon kom.

“Hy het op sy knieë beweeg. Ek kon hom net neersit en hy sou op sy knieë hardloop,” onthou Niklaas.

Meyer het sy eerste prostese op sesjarige ouderdom ontvang en het sowat twee jaar gelede sy derde prostese ontvang. Dié prostese is weer te klein.

Skoolhoof Waldy Kastoor, onthou die eerste keer dat hy Meyer gesien het.

“In 2013 het ek gesien hoe van die kinders vir Aubrey soos ’n sak aartappels op hul skouers by die trappe op pad toilet toe dra.”

Niklaas het nie op sy aansoekvorm gesê dat sy seun fisies gestremd is nie. “Ek wou graag hê my seun moet ook by Parkview skoolgaan, want dit is waar ek skoolgegaan het en daar is niks verkeerd met sy brein nie.”

Kastoor sê hy het toe aansoek gedoen by die departement van onderwys dat Parkview as volle inklusiewe skool gesien word, omdat die ou gebou nie aangepas is vir gestremde persone nie, hoewel van die onderwysers opgelei is om inklusiewe onderrig te gee.

Die nuwe skoolgebou, wat sowat ’n jaar gelede ingehuldig is, maak egter slegs gedeeltelik voorsiening vir persone met gestremdhede.

Hoewel Meyer se klasmaats baie beskermend oor hom is, is hy volgens Kastoor, ook ’n baie onafhanklike kind en het hy hom al talle kere op sy eie sien afspring by die trappe.

Tashwell Adams, ’n afrigter by die Velocity-atletiekklub in Atlantis, het in Januarie vir Meyer by die Wesfleur-sportgrond raakgeloop.

“Ek het gesien hoe hy rond hardloop en begin wonder wat sou gebeur indien hy ’n geleentheid kon kry om met hulp van die regte prostese, ’n ‘tweede kans’ kon kry om te kyk waar hy inpas,” verduidelik Adams.

Na Adams kontak gemaak het met die Jumping Kids-stigting, ’n nie-winsgewende organisasie, wat prosteses aan veral kinders in agtergeblewe gemeenskappe voorsien, het hulle ingestem om Meyer te help met ’n spesiaal aangepaste prostetiese been.

Adams en Meyer reis gedurende die Julie-vakansie na Pretoria, waar hulle met verteenwoordigers van Jumping Kids sal ontmoet en die nodige toetse gedoen sal word.

  • Adams het ook aangebied om Meyer af te rig en sê hy verwag nie van hom om die volgende Oscar Pistorius te wees nie, maar hy wil hom net ’n regverdige kans gee om sport soos sy maats te kan beoefen. Enigeen wat kan help om Tashwell en Aubrey se reis na Pretoria makliker te maak, kan geld direk in Jumping Kids se rekening betaal. Besonderhede as volg:

Naam: Jumping Kids Prosthetic Fund

Tak en kode: (Nedbank) Hatfield – 160 245

Rekeningnommer: 160 241 7555

Verwysing: Aubrey Meyer

Enige ander donasies soos skoene, sweetpak, spykerskoene, ens. sal ook verwelkom word.

Kontak Weskus Nuus by 072 4159 059 of 021 572 9090 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.