Avondale Primêr het Sondag 7 Mei die skool se 40ste verjaarsdag met ’n gedenk- diens in die Atlantis Vaardigheidskool- saal begin.
Die tweede oudste skool op die dorp naas Wesfleur, het amptelik sy deure op 12 April 1977 geopen. Die eerste skoolhoof was Pieter Kastoor.
Sedertien was Gerard Lesch, Francois Swartbooi, Adam Bekens, Samuel Martins permanent of vir ’n wyle, aan die stuur van sake by die skool.
Huidige skoolhoof, Michael Scholtz, is reeds sedert 2005 in die pos.
Volgens Chris Macounie, ’n onderwyser by die skool, is Wesfleur Primêr eerste geopen, alhoewel Avondale eerste gebou is. Die skool het verlede jaar opslae in die media gemaak nadat ouers en die beheerliggaam die skool gesluit het oor die swak toestand van die gebou.
Ouers het verder gegaan en ’n petisie aan amptenare van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement oorhandig vir ’n nuwe skool. Bouwerk aan die nuwe skool begin eersdaags. Volgens Macounie, wat die dankseggingsdiens gelei het, het meer as 500 mense die diens bygewoon, waaronder vorige hoofde en onderwysers sowel as oudleerders.
Die skool beplan nog heelwat funksies as deel van sy feesvieringe, sê Roseline Hofmeester, wat met die reëlings gehelp het
Leerders en opvoeders gaan nog lekker bederf word met ’n partytjie by die skool. Daar gaan ook ’n birthday bash-dans gehou word en die spesiale vieringe gaan afgesluit word met ’n high tea later in die jaar.
Volgens Hofmeester sal datums vir die funksies later bekendgemaak word omdat hulle nog besig is met die reëlings.