Sowat drie jaar nadat ouers en leerders van Avondale Primêr die skool weens hul ontevredenheid met die toestand van die gebou laat sluit het, is die nuwe skoolgebou nou uiteindelik staande.
Die projek, wat 20 maande sou duur, is deur Neill Wilson Architect Cc ontwerp. Bouwerk, waarvan volgens die argitek nou reeds 98% voltooi is, is al vir 16 maande aan die gang.
Die nuwe skoolgebou en ’n nuwe sportveld is gereed. Die skool sal nou 1 200 leerders kan huisves met die graad R-klaskamers wat nou apart van die hoofgebou is.
Fase 1 sou in September 2018 voltooi gewees het, maar weens verskeie struikelblokke sal die bouwerk na verwagting aan die einde van vandeesmaand eers klaar wees.
Dit beteken Avondale se personeel en leerders sal vir die nuwe kwartaal in hul nuwe skool kan intrek.
“Die ou skoolgebou sal as deel van die tweede fase gesloop word. Dit sal gebeur sodra die subkontrakteur beheer van die perseel neem.
“Die sloopwerk sal na verwagting teen 31 Julie (vanjaar) voltooi wees,” het die argitek verduidelik.
Die kontrak behels byna R52 miljoen en 93% van die geld is reeds bestee.
“Plaaslike subkontrakteurs is vir die projek gebruik en monitering van die uitgebreide openbare werke-program (EPWP in Engels) het bevind die doelwitte vir gemeenskapsdeelname, wat vroeër uiteengesit is, is bereik.”