Avondale-vroue vermaak en voed kinders

Twee vroue van Avondale het besluit omstandighede gaan hulle nie weerhou om andere te help nie.


Twee vroue van Avondale het besluit omstandighede gaan hulle nie weerhou om andere te help nie.

Marie Tobias en Avril April sit ten minste een keer per week ’n glimlag op 300 honger magies se gesigte wanneer hulle kos aan kinders en volwassenes by die Neptune Castle-woonstelle in Avondale voorsien.

Elke Woensdag kom die mense by die woonstelblok met hul bakkies of borde bymekaar, waar Tobias en April kos uitdeel.

Dié kos word uit hul eie sak aangekoop.

Die twee vroue vermaak ook die kleinspan met speletjies en staaltjies. Hulle sien hierdie aktiwiteit as ’n manier om kinders van die straat te hou en ’n gesellige atmosfeer te skep.

Volgens April, wat nie in die Neptune Castle-woonstelle bly nie, het Tobias se liefde vir die kinders haar aangesteek en het sy besluit om deel van die projek te word.

Die vroue wil graag ander dele van Avondale ook met kos voorsien wanneer hulle meer potte kan bekom en as hul sakke dit sou toelaat.

You need to be Logged In to leave a comment.