Die drie verdagtes wat verdink word van die moord op die tweejarige Brayden Graaf se saak is van die plaaslike streekshof na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas.
Die verdagtes, Andrew Hendricks (21), Charlton Ranier (19) en Renaldo Geduldt (18) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Dit volg nadat die peuter, wat op sy ma se skoot buite ’n woonstel in Babblers Place gesit het, ten tyde van die voorval op Saterdag 22 Oktober noodlottig gewond is. Die vermeende skieters het vermoedelik op ’n man wat by die bushokkie gestaan het begin losbars en ’n dwaalkoeël het die peuter getref. Brayden is glo in die sy getref en is in die nabye Wesfleur-hospitaal deur mediese personeel dood verklaar. Die drie verdagtes, glo lede van ’n prominente bendegroep, sal hul eerste verskyning op 15 September in die hooggeregshof maak.
Twee van die verdagtes is steeds in aanhouding, terwyl Hendricks op borgtog van R3 000 vrygelaat is.