Baba Brayden verdagte ook voor vir Valentino se moord

Die drie verdagtes wat verdink word van die moord op die tweejarige Brayden Graaf, word volgende jaar Maart verhoor.


Die drie verdagtes wat verdink word van die moord op die tweejarige Brayden Graaf, word volgende jaar Maart verhoor.

Andrew Hendricks (20), Charlton Renier (19) en Renaldo Geduldt het Vrydag 3 November vlugtig in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn, waar hulle meegedeel is dat die saak van 12 tot 29 Maart 2018 verhoor sal word.

Die drie mans staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige besit van ongelisen­sieerde vuurwapens en ammunisie.

Dit volg na die skietdood van die peuter Saterdag 22 Oktober 2016 terwyl hy op sy ma se skoot gesit het.

Die vermeende skieters het begin losbrand op mense wat rustig by die Babblers Place-woonstelle gekuier het. Baba Brayden is in die sy getref en is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Hendricks, wat borg van R3 000 ontvang het na hy in hegtenis geneem is vir Baba Brayden se moord, word ook verdink dat hy betrokke was by die moord op die atleet Valentino Williams (17). Williams is Sondag 27 Augustus ’n paar treë van sy ouerhuis in Robinvale doodgeskiet. Hendricks het 27 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met dié saak. Die saak is uitgestel tot vandag (28 November).

You need to be Logged In to leave a comment.