Pearl Kortje en haar vyf weke oue baba kort voordat sy uit die Rooikruis-kinderhospitaal ontslaan is.Foto:


Nadat haar baba “by die dood omgedraai het” sê Pearl Kortje (33) sy sal nooit weer haar voete in die Wesfleur-hospitaal sit nie.

Kortje het aan Weskus Nuus vertel haar vyf weke oue baba was byna dood terwyl die dokter aan diens glo gesê het sy moet ná drie dae terugkom – sonder dat hy die kindjie ondersoek het.

Kortje, wat die afgelope paar jaar in Gauteng woon, het by familie in Atlantis gekuier. Sy het Donderdag 6 Junie by die hospitaal hulp gaan soek.

“Haar lippe het begin blou word en sy het aanhoudend diarree gehad. Sy het net aanhoudend gehuil. Ek het magteloos gevoel en is boonop deur die personeel gevra om buite te wag totdat ’n dokter beskikbaar is.

“Die dokter het uiteindelik net suikerwater en antibiotika gegee en gesê ek moet ná drie dae terugkom, en dit nadat ek verduidelik het hoe siek my baba is. Ek moes ’n private dokter die volgende dag besoek en dié het haar onmiddellik na die Rooikruis-Kinderhospitaal verwys,” verduidelik Kortje.

Sy sê dokters by Rooikruis het haar meegedeel haar dogtertjie se hartklop het verflou. Die baba het toe in skok gegaan terwyl die personeel probeer het om haar lewe te red. “Ek kon nie glo Wesfleur-hospitaal se nalatige dokter het my kind se lewe in gevaar gestel nie. Wat sou gebeur het as ek drie dae moes wag soos hy voorgestel het?” Volgens Kortje het sy reeds verskeie briewe aan die hospitaalbestuur geskryf en haar klagtes telefonies aangemeld – sonder sukses. Volgens haar het sy geen terugvoering ontvang nie.

Natalie Watlington, woordvoerder van die departement van gesondheid, het by navraag bevestig die baba is deur ’n dokter by dié -hospitaal ondersoek. Watlington sê dit is die departement se beleid dat siek babas en kinders voorkeur geniet. “Die hospitaal-bestuur sal die kwessie ondersoek.”

You need to be Logged In to leave a comment.