- Atlantis-krieketklub, oftewel die Baggy Blues, kwalifiseer om in Westelike Provinsie Krieketvereniging se 1B/C-halfeindronde mee te ding.
Die trekking vir die halfeindronde wat in Februarie begin, sal tydens ’n spoggeleentheid op Nuweland gehou word.
Saterdag 7 Januarie het die span Helderberg op Somerset-Wes met 1 paaltjie geklop. Die tuisspan het eerste gekolf nadat Atlantis die loot gewen het. Helderberg het die dun boulaanval van Atlantis verniel en 221 lopies vir agt paaltjies in hul toegelate boulbeurte aangeteken. Ashley Goliath 4/40 en Kurt Julius 2/41 was die Baggy Blues se beste boulers.
Atlantis het vroeg in die spel paaltjies verloor en het teen die einde in 49 boulbeurte die knoop deurgehak. Krisnan Oosthuizen 96* het skitterend vir die Baggy Blues gekolf. Justin Rooibaadtjie 29, Ashley Goliath 26 en Ashley Michaels 13 het hom goed ondersteun.
Sondag 8 Januarie, het Baggy Blues die Blue Bells vermorsel tydens ’n tuiswedstryd op Robinvale-sportveld. Eers het hulle Blue Bells vir ’n skamele 128 lopies in 35 boulbeurte uitgeboender en die wenlopies in 16 boulbeurte geslaan.
Reagan Adonis 4/18 en Kurt Julius 3/9 was die beste met die bal terwyl Shane Summers ,64, brutaal was met die kolf. Sy beurt het ses reuse-sesse ingesluit. Ashley Goliath 20* het die wenlopies behaal.
- Die Baggy Blues het Saterdag 22 Januarie in ’n wegwedstryd teen Bonteheuwel gespeel.
Kaptein Rodger August het die tuisspan eerste laat kolf en die manne van Bontas was gou-gou kniediep in die moeilikheid. Op 36/3 het die Baggy Blues hul wurggreep verslap en Bonteheuwel toegelaat om meer as ’n honderd lopies-vennootskap om die vierde paaltjie aan te teken.
Die tuisspan het uiteindelik 175 lopies in hul toegelate 60 boulbeurte aangeteken. Eldine Goliath (4/31), Krisnan Oosthuizen (3/41) en Ashley Goliath (2/37) was Atlantis se suksesvolle boulers. Atlantis het toe gaan kolf en Ashley Goliath (41) en Justin Rooibaadtjie (29) het 75 lopies vir die eerste paaltjie aangeteken. Daarna het Atlantis heeltemal ineengestort en kon slegs 156 lopies in hul eerste beurt behaal. Krisnan Oosthuizen (25) en Rodger August (15) was die enigste ander kolwers wat dubbelsyfers behaal het. Bonteheuwel was teen uitskeityd 53/1. Die wedstryd is Saterdag 28 Januarie voortgesit.
Bonteheuwel het in hul tweede beurt 257 lopies vir vyf paaltjies aangeteken. Baggy Blues moes 277 lopies behaal vir ’n oorwinning, maar Atlantis se kolwers kon net 119 lopies bymekaarskraap. Atlantis verloor met 158 lopies.