Atlantis-krieketklub het Saterdag 4 Februarie uitgeblink met die kolf en bal op die eerste dag van hul Westelike Provinsie 1C tweedaagse wedstryd teen Bellville-Suid op Robinvale.
Atlantis het eerste gekolf in die wedstryd, wat 90 minute laat begin het weens ’n nat kol op die kolfblad. Byna al sy topkolwers het lopies aangeteken, asook die stert.
Voorlangs het Ramon Fester (31), Kurt Julius (30) en Jevon Cloete (22) lopies behaal terwyl Regan Adonis (52), Ashley Micheals (38) en Areldo Meitjies (33) agterlangs behoorlik die langsteel ingelê het.
Die Baggy Blues het 244 lopies in hul beurt behaal, terwyl Bellville-Suid net 152 lopies in hul eerste beurt kon haal.
Saterdag het Bellville-Suid die Baggy Blues behoorlik vasgeknoop in hul tweede beurt en tweede dag van die wedstryd. Vier Baggy Blues-spelers het geen lopies aangeteken nie. Jevon Cloete 38, Kurt Julius 33, Justin Rooibaadtjie 25 en Regan Adonis 19 het gesorg dat Atlantis 126 lopies aanteken. Die besoekers moes in beperkte tyd 220 lopies aanteken vir ’n oorwinning. Krisnan Ootshuizen en Areldo Meitjies het egter voor die pouse elk ’n paaltjie geneem en die besoekers het gaan eet op 19/2. Die besoekers het ’n honderd lopie vennootskap vir die sesde paaltjie gekry, maar skitterende veldwerk deur Oosthuizen en briljante boulwerk deur al Atlantis se boulers het hulle in hulle spore gestuit. Atlantis het die wedstryd met 35 lopies gewen en is nou weer onder die voorlopers op die punteleer.