Indien hulle albei tweedaagse wedstryde wen, kan die Atlantis-krieketklub dalk promosie kry na ’n hoër liga.
Dit kan ook net gebeur mits die twee topspanne vasval, verloor of gelykop speel in hul oorblywende wedstryde.
’n Mens kan egter sê, dis die Atlantis-span se eie skuld. In hul laaste tweedaagse wedstryd het die span die louere met Langa gedeel, nadat hulle in die vorige tweedagreeks ’n belaglike wentotaal gekolf het.
Te veel lopies en te min tyd. Met diè waardevolle inligting in sy agterkop het die Baggy Blues se eerste span-kaptein, Rodger August, glad nie gehuiwer om Saterdag 4 Maart eerste te kolf op die eerste dag van hul wedstryd teen Glamorgan op Ruyterwacht nie.
Hy het egter sy besluit betwyfel toe die aanvangspaar, Justin Rooibaadtjie (0) en Ashley Goliath (1), vir 3 lopies in die kleedkamers was.
- ’n Derde paaltjie-vennootskap van 84 lopies , asook 92 lopies tussen Jevon Cloete (24) en Summers het beslis ’n paar glimlagte op stoere ondersteuners se bakkies gebring.
Daarna het August (32) en Krisnan Oosthuizen (41) Glamorgan se boulers behoorlik rondgepluk. Atlantis het teen die einde 273 lopies vir 8 paaltjies in sy toegelate 60 boulbeurte aangeteken.
Met dié groot totaal het Atlantis aanvallende veldwerk gedoen en Glamorgan toegelaat om 182 lopies vir 7 paaltjies aan die einde van die eerste dag se spel aan te teken. Julius met 2/49, asook Christopher Links 2/65 was die Baggy Blues se mees suksesvolle boulers.
- Die Baggies het op dag twee 167 lopies in hul tweede beurt behaal en Glamorgan die taak gelaat om 231 lopies in 83 boulbeurte aan te teken vir ’n oorwinning. Atlantis-boulers het egter die tuisspan vir 165 lopies uitgeboul en Atlantis het die wedstryd met 65 lopies gewen.
Die eerste span se volgende tweedaagse wedstryd is 18 en 25 Maart op Robinvale-sportveld teen Macassar.