Atlantis-krieketklub het 2016 op ’n hoë noot met ’n wen teen Langa afgesluit.
Die geliefde Baggy Blues, soos hulle bekend staan, het Langa Saterdag 10 Desember, met 10 paaltjies geklop op die Robinvale-sportveld.
Atlantis het die loot gewen en Langa gevra om eerste te kolf. Die besoekers kon net 71 lopies in 25 boulbeurte behaal.
Eldine Goliath 5/12, Reldo Meitjies 3/16 en Krisnan Oosthuizen 2/18 het die paaltjies vir die Baggy Blues ingeoes. Kurt Julius 46* en Justin Rooibaadtjie 22* het die wenlopies in 11.1 boulbeurte behaal.
- Die veelsydige paaltjiewagter en middelorde kolwer, Justin Rooibaadjie, het Sondag 4 Desember sy eerste hondertal vir die Baggy Blues behaal in ’n Westelike Provinsie-krieketvereniging se 1B/C Premier eendagwedstryd teen Somerset-Wes.
Die wedstryd het op ’n dramatiese wyse geëindig met ’n gelykopuitslag. Dit is die vyfde keer in die klub se 37 jarige geskiedenis dat ’n eendagwedstryd gelykop eindig.
Rooibaadjie is in dié wedstryd as aanvangskolwer ingespan omdat sleutelspelers nie beskikbaar was nie. Somerset-Wes het die loot gewen en besluit die Baggy Blues moet eerste kolf.
Rooibaadjie (110), Ashley Goliath (38), Kurt Julius (37) en Jevon Cloete (28) het tesame gesorg dat die Baggy Blues 253/6 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken. Rooibaadjie se kolfbeurt het vier reusesesse ingesluit.
Atlantis se verswakte boulaanval kon nie die tuisspan in hul 50 boulbeurte vroeg uitkry nie. Somerset-Wes het in die laaste vier boulbeurte 55 lopies aangeteken om ’n gelykop uitslag af te dwing.
Teen die einde was hulle 253/7. Ashley Goliath 1/61, Charlton Adonis 2/61 in 10 boulbeurte en Jevon Cloete 1/55 in nege boulbeurte was beslis die kluts kwyt met hulle boulwerk.
Eldine Goliath 2/19 en Franklin Sampie 0/26 ook in 10 beurte was die uitstaande boulers.
Wedstryddatums vir Januarie 2017: Atlantis speel die 7de weg teen Helderberg en 8ste op Robinvale-sportveld teen Blue Bells. Albei wedstryde begin om 10:00.