Baggy Ladies WP-kampioene

Die Atlantis-krieketklub se vrouespan is die Westelike Provinsie Krieket-vereniging se Promosie Liga-kampioene.


Die Atlantis-krieketklub se vrouespan is die Westelike Provinsie Krieket-vereniging se Promosie Liga-kampioene.

Die plaaslike span het Saterdag 8 April Somerset-Wes met 17 lopies geklop op die Robinvale-sportveld.

Die Baggy Ladies, soos hulle bekend staan, sal volgende seisoen in WP se premierafdeling speel. Verskeie Proteaspelers speel in die liga en die sterkte van die Atlantis-dames sal deeglik getoets word.

Amelia Mulligan, kaptein van die Baggy Ladies, het die loot gewen en glad nie gehuiwer om eerste te kolf nie. Haar span het in hul 20 boulbeurte 147 lopies vir die verlies van 3 paaltjies aangeteken.

Jadie Marks het ’n skitterende 50 lopies behaal terwyl Janice Alexander ook met die kolf uitgeblink het.

Albei die spelers sal beslis deur die WP-keurders nader geroep word.

Marks is ’n veelsydige speler en is een van die beste paaltjiewagters. Sy het ook drie vangskote in Somerset-Wes se kolfbeurt benut en gehelp dat die besoekers net 133 lopies vir 8 paaltjies aanteken.

Mulligan het ook met die bal uitgeblink vir Atlantis. Die afrigter van die span, Nathaniel Jantjies, het die oorwinning en promosie as baie harde werk beskryf en hy meen dat sy troepe nie ’n tree agteruit sal staan vir spanne met Proteaspelers nie. “Hulle het al in die premierliga gespeel en sal met baie meer vertroue speel,” aldus Jantjies.

You need to be Logged In to leave a comment.